top of page

Spieëltjie, spieëltjie

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand,wie is die dunste in die land……..

Adolessente is selde tevrede met hulle voorkoms, ongeag hoe hulle vir ander mense lyk. Soos verwag, kyk meisies dikwels afkeurig na hul eie massa en liggaamsvorm, maar seuns het ook die voorstelling van benydenswaardige gespierde lywe wat selde ooreenstem met hul eie. ‘n Negatiewe liggaamsbeeld word gedefinieer as ‘n ontevredenheid met ‘n persoon se liggaamsbeeld, te wyte aan die manier waarop ‘n persoon sy liggaamsgrootte of vorm ervaar en hoe hulle daaroor voel. Die Westerse samelewing beklemtoon “slankheid” en tussen tydskrif, televisie en sosiale media word onrealistiese rolmodelle voorgehou. ‘n Onvermoë, veral by meisies, om aan die onrealistiese standaard te voldoen bring ‘n negatiewe liggaamsbeeld mee. Gevolglik ontstaan verslankingsaksies om gewig te verloor, dikwels op uiterste metodes en met ontoepaslike gedrag.

Gedrag geassosieer met eetversteurings kom op ‘n kontinuum voor van vermyding van kos met ondermassa tot oormatige energie inname en obesiteit op die ander punt. ‘n Eetversteuring word gekenmerk deur a)‘n versteurde ervaring van liggaamsmassa of vorm en b) onredelike invloed van liggaamsmassa of vorm op self-evaluasie

Wat weet ons?

Baie navorsing word gedoen om die oorsprong en dinamiek van eetversteurings te verstaan. Alhoewel die legkaart kompleks is, is daar verskeie faktore geïdentifiseer wat verhoogde risikos is vir die ontstaan van ‘n eetversteuring.

  • Genetika. Daar blyk ‘n sterk genetiese komponent te wees en dit hou moontlik ook verband met die genetiese oordrag van angsversteurings en depressie. Die insidensie van kinders met angsversteurings wat ‘n eetversteuring ontwikkel, is hoog. Obsessief-kompulsiewe gedrag gaan dikwels ‘n eetversteuring vooraf.

  • Temperament, wat waarskynlikook verband hou met genetika. Perfeksionisme, gevoelens van oneffektiwiteit, rigiede denkpatrone,probleme met outonomiteit en regulering, swak impulskontrole en frustrasie toleransie is eienskappe wat dikwels teenwoordig is by pasiënte met eetversteurings.

  • Aanpassingsprobleme t.o.v psigo-seksuele ontwikkeling.

  • Sosiale opset. Families mag op die oog af gelukkig en stabiel lyk, maar onder die oppervlak is daar onopgelosde konflik en verhoudingskwessies.

  • Trauma. Kinders wat blootgestel is aan mishandeling en seksuele molestering maak tussen 20% - 50% van gevalle met eetversteurings uit.

  • Ouderdom. Meeste eetversteurings ontstaan tydens tienerjare en vroeë twintigs. Jonger ouderdomme is aangeteken en toenemende hoeveelhede middeljarige vrouens word gediagnoseer.

  • Diabetes mellitus. ‘n Beheptheid met kos en porsiekontrole mag ‘n verhoogde risiko tot gevolg hê.

  • Sport. Hoogs kompeterende atlete op baie strawwe oefenprogramme mag ‘n hoër risiko hê, veral waar daar streng dieetpatrone ter sprake is. ‘n Toestand van “Oefening – anoreksie” kan gepaardgaan met “Ooroefen –sindroom” waar atlete aanhou oefen teen ‘n hoë intensiteit, maar prestasie neem af. Atlete wat sport beoefen waar voorkoms beklemtoon word soos gimnaste, ballerinas en liggaamsbouers is baie vatbaar aangesien ‘n “ideale” ligaamsvorm voorgehou word en dikwels gepaardgaan met streng eetpatrone. Manlike liggaamsbouers mag die drang hê om “groter” te wees. Dienooreenkomstig ontwikkel versteurde eetpatrone, tesame met die gebruik van anaboliese steroiede om hul doel te bereik; die sogenaamde Adonis kompleks.

Alhoewel eetversteurings reeds in 1874 beskryf is, is dit steeds onseker of dit primêr ‘n sielkundige of ‘n fisiologiese toestand in die brein is of beide. Dit is wel merkbaar dat sekere indivdue in ‘n prutpot van risikos grootword en ‘n nuwe lewensfase of ‘n insident die fisiese manifestering van simptome ontlok. Ons samelewing met ‘n onrealistiese “slank”kultuur waar kos vir oorlewing en ontspanning gebruik word, plaas ook vatbare individue onder meer druk om houdings en eetgedrag te ontwikkel,soortgelyk aan eetversteurings

Wat kan ons doen?

Ps 139: 13 – 14. “U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof,want U het my op wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het vul my met verwondering”

Ons identiteit is in God en Sy volmaakte skeppingsplan vir my. Hy het my perfek geskape vir Sy doel. Die fout wat ons maak is dat ons selfwaarde koppel aan gevoelens rondom ons liggame. My waarde word deur God bepaal; nie wat mense van my dink of wat ek van myself dink nie.

Jou huis is jou gesin se hawe waar dit vir jou kind veilig moet wees. Ons benodig ‘n sensitiwiteit en ruimte vir mekaar se behoeftes, empatie en begrip sodat kinders die vrymoedigheid kan hê om kwessies te bespreek. Behalwe dat my gesinsopset beskermend kan wees t.o.v eetversteurings, weerhou skaamte en skuldgevoel by kinders hulle daarvan om in die vroeë stadium van ‘n eetversteuring hulp te soek .

Wie is ons kinders se rolmodelle? Kan ons perspektief plaas op ‘n meer realistiese beeld? Dit beteken ook introspeksie t.o.v my eie gedrag –onrealistiese eise aan myself, ongesonde eetpatrone, fanatiese oefenpraktyke? Lê die fondasie van gesonde eetpatrone sonder skuldgevoelens oor sogenaamde “verbode” kosse. Kweek die liefde aan vir ‘n aktiewe lewenstyl sonder oordrewenheid.

Vroeë diagnose van ‘n eetversteuring, dra by tot die beste prognose vir rehabilitasie.

Recent Posts
bottom of page