Vas aan die slaap...? (Anru Liebenberg)
Oorspronklik 3 Oktober 2024 gepubliseer
Ek het onlangs gehoor van ‘n Duitse generaal wat in 1914 die leier van die weermag was wat die Russe verslaan het in die slag van Tannenberg. Paul von Hindenburg het later die president geword. Wat wel vir my baie interessant was, was die feit dat sommige persone die sukses van die weermag toegeskryf het aan sy mindere, die stafhoof, Erich Ludendorff. Ludendorff was skynbaar die strateeg en uitvoerder van die planne. Die legende is alombekend dat von Hindenburg geslaap het terwyl die kritiese oomblikke van die geveg plaasgevind het.
Die prentjie van ‘n slapende leier, terwyl ander die werk doen, het my nogal getref en laat wonder. Hoeveel keer laat mense nie die kritiese werk of verantwoordelikhede van die lewe oor aan iemand anders wat die kastaaiings uit die vuur moet krap nie?
‘n Onderwyser of terapeut moet kinders se gedragsuitvalle aanspreek, maar Pa en Ma werk nie saam om ‘n kultuur van respek in die huis te kweek nie. Die kerk moet met ‘n handjievol ure per jaar van ons kinders mooi gelowige jongmense maak, maar by die huis is daar selde gesprekke oor wie die Here is en watter rol Hy in ons gesin se lewe speel en ons help om ons prioriteite te bepaal. ‘n Diensverskaffer moet maar planne maak om rekeninge te betaal omdat kliënte nie betaal nie, terwyl die kliënt jare laas ‘n begroting opgestel het en nogsteeds geld het vir ander plesiertjies.
Moet my nie verkeerd hoor nie: ons almal het ‘n behoefte aan genade, almal maak foute, baie mense dra ‘n las wat té swaar is. Daarom behoort ons graag te wíl help wanneer die nood druk.
Ek wonder wel of ons samelewing nie té gemaklik geraak het om rustig te slaap, kritiese verantwoordelikhede aan ander oor te laat en sodoende nie meer ons vinger op die pols het nie. Wat help dit tog my besigheid floreer, ons maak geld soos bossies, maar ek weet nie wat in my kind se hart aangaan nie? Wat help dit ek is alles vir almal, maar my huwelik stagneer?
In elkeen van ons se lewe is daar sekere dinge waarvoor ons verantwoordelikheid moet aanvaar. The buck stops with me. Ek kan ‘n klomp ander persone of sisteme blameer wanneer die wiele afkom, maar uiteindelik kan ek nie ander blameer wanneer ek vas aan die slaap was nie.
Hoe gemaak wanneer jy voel soos Ludendorff, terwyl die generaal slaap? Moenie te veel op die slapende generaal fokus nie. Fokus op wat jy moet doen, en doen dit getrou en met uitnemendheid. Die kans is goed dat die storie uiteindelik vertel sal word soos wat dit werklik was.
Comments