top of page

'n 'Soft launch' strategie (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 11 Oktober 2024 gepubliseer


‘n Woord wat ek die afgelope ruk ‘n paar keer gehoor het en wat my al hoe meer interesseer is die woord ‘soft launch’.

Ek sien nou die dag ‘n paar skoene op sosiale media wat ek graag wil koop, maar die platform wat dit verkoop is vir my onbekend. Na ‘n vinnige soektog kom ek toe agter dat hierdie platform die nuwe baba is van ‘n baie groot maatskappy wat al vir dekades lank bestaan. Dieselfde geld vir Amazon: jy het dalk iewers gehoor dat Amazon nou in Suid-Afrika ook is, maar dink gou of jy die afgelope paar maande enige noemenswaardige bemarking van Amazon gesien het? Waarskynlik nie; hulle het gekies vir ‘n ‘soft launch’.




Wat beteken ‘n ‘soft launch’? Ons begin, maar ons begin nie met ‘n groot fanfare en in die vyfde rat nie. ‘n ‘Soft launch’ begin klein, maak foute op ‘n kleiner skaal, bou algaande kapasiteit en soos wat die nuwe produk of diens momentum bou, word kapasiteit vergroot. ‘n ‘Soft launch’ is ‘n goeie voorbeeld van hoe skaaldinamika werk; ‘n hond is wel in staat om ‘n bus se agterwiel te vang, maar wanneer hy hom gevang het, wat dan?

Wat kan ek en jy leer by ‘n ‘soft launch’? Soms het ons ‘n droom of ons voel dat ons gelei word om ons toe te spits op iets wat ons na aan die hart lê. Jare gaan verby, maar omdat die prentjie nog nie presies in ons kop sin maak nie, doen ons niks. ‘n ‘Soft launch’ help ons om te verstaan dat ons êrens moet begin. Soos wat ons begin, ontvou die groter prentjie dikwels sodat ons die aanvoeling kry van die volgende tree om te gee. Mense sal soms vir die Here wag om aan hulle helderheid te verskaf oor wat hul moet doen of waarheen hul moet beweeg. ‘n Ander manier is om die Here se stem te probeer hoor en te onderskei wat om te doen soos wat ons beweeg, probeer, foute maak en weer probeer.

Kapasiteit word dikwels oor die langtermyn gebou. Baie mense wil graag iets groot doen of bereik, maar vergeet dat die groot ding feitlik altyd bereik word oor ‘n lang tydperk. ‘n Mens skryf nie ‘n boek in ‘n dag nie, jy bou nie ‘n neseier op binne ‘n paar maande nie en jy word nie ‘n mens wat liefdevol en diensbaar is omdat jy vanoggend besluit het om dit te word nie. Goeie dinge vat tyd en intensionele investering oor ‘n lang tyd. Geen mens kan daarop roem om ervaring te hê na ‘n week nie… dit vat dikwels duisende klein treë in ‘n bepaalde rigting.

In Sagaria 4 lees ons van Serubbabel wat die opdrag ontvang om die na die ballingskap in Babilonië die tempel in Jerusalem te herstel. Dit lyk waarskynlik vanuit sy perspektief na ‘n onmoontlike taak maar hoor hierdie bemoedigende woorde in vers 10: "Moenie neersien op die werk wat so klein begin nie. Die Here is bly oor wat besig is om te gebeur. Die Here hou Serubbabel fyn dop. Hy sien dat Serubbabel met groot sorg aan die tempel bou." (Die Boodskap)

Liewe vriend, bou vandag met vertroue voort aan dit wat jou opgewonde maak en wat jy glo jy geroep is om te doen. Elke tree het waarde.

Comments


Recent Posts
bottom of page