'n Regula vir die rustyd...
Oorspronklik 22 November 2024 gepubliseer
Ons het ‘n klompie jare gelede een Desember saam met familie gaan vakansie hou in Mosambiek. Ek het mooi herinneringe aan ons tyd saam by die see, maar een ding onthou ek goed: Danél (my vrou) het elke keer wanneer ons op die strand gaan stap het, rommel opgetel. Kort voor lank was ons hande vol! Dit is maar net wie Danél is: altyd gereed om ‘n geselsie aan te knoop, iets vir iemand te beteken of ‘n papier op te tel.
My aanvanklike reaksie was een van ligte irritasie; ons is met vakansie, ons hoef regtig nie Mosambiek se werk vír hulle te doen nie! Tog, noudat ek weer daaraan terugdink, besef ek dat daar in haar aksie destyds ‘n belangrike waarde lê: of ek hier of daar is, of ek werk en of ek rus, ek bly altyd dieselfde mens. Ons kan altyd in kongruensie leef.
‘n Woord wat in my gedagtes opkom is die woord ‘regula’. Ek het vinnig daaroor opgelees en gesien dat die woord assosieer word met Benedictus, wat in die sesde eeu geleef het en die ‘Rule of Saint Benedict’ geskryf het. Dié geskrif was eintlik vir monnike bedoel en het gefokus op ‘n lewe wat gerig is op geestelike groei, harmonie in gemeenskap en diens aan die Here.
Met Kersfees omtrent ‘n maand weg, kan baie van ons nie die versoeking weerstaan om net te wil wegkom nie; ons wil graag wegbreek van ons huidige realiteit. Dit is natuurlik heeltemal normaal om so te voel, en ‘n wegbreek van dit wat normaal is, doen dikwels wondere. Tog het elke jaar 52 weke; 52 weke om sinvol te leef, om kongruent te probeer leef. Ons kan uit die aard van die saak nie verwag dat 2 of 3 weke in ‘n jaar die res van ons weke skielik moet oorskryf of herroep nie.
As jy êrens in die nabye toekoms vir ‘n ruk kan wegbreek, dink aan die volgende paar idees om ‘n ritme van kongruensie te vestig:
- Is daar dalk een of twee ritmes wat jy graag meer wil begin toepas in jou lewe? Bied die rustyd dalk vir jou ‘n goeie geleentheid om daarmee te begin?
- Waarvan wil jy ‘n definitiewe breuk maak hierdie Desember? Dalk minder nuus lees, tyd op sosiale media spandeer, iets anders?
- Wat wil jy graag saam met ander doen wat dalk agterweë gebly het die laaste ruk? Meer aan tafel eet, saam braai, speletjies saam speel, uitreik na ‘n paar vriende?
- Kan jy dalk na een persoon in nood of ‘n persoon wat eensaam is, uitreik in hierdie Kerstyd?
Soos wat ek by my vrou geleer het; of jy tuis is en of jy elders is, soek vir ‘n papier om op te tel, doen moeite om iemand te groet of beleefd dankie te sê. Dit is mos wie jy is, nie waar nie?
Commentaires