Die gawe van ongemak (Anru Liebenberg)
Oorspronklik 24 Oktober 2024 gepubliseer
As ek jou moes vra om te kies tussen dié twee opsies: ‘n goeie maar gemaklike lewe, of ‘n lewe wat noemenswaardige verlies, pyn of swaarkry insluit, wat sou jy kies? Dit is heeltemal menslik en normaal om vir die eerste opsie te wil kies, nie waar nie?
En sê nou ek verander die opsies ‘n bietjie en ek voeg by: die goeie, gemaklike lewe sal nie ‘n besondere impak op ander hê nie, maar die lewe met verlies, pyn of swaarkry wel… hoe verander dit jou gedagtes daaroor?
‘n Paar weke gelede het daar in ‘n kwessie van ‘n paar dae ‘n paar teksgedeeltes, preke, podcasts ensovoorts oor my pad gekom wat oor verlies gehandel het. My eerste reaksie was: “Here, sê asseblief vir my hierdie kom oor my pad sodat ek iemand anders daarmee kan help, maar dit sal gaaf wees as die verlies nie my eie is nie.” Min mense is gretig om swaarkry, verlies of vernedering te verwelkom, maar dit is juis soms hierdie seisoene wat die potensiaal het om wyer uit te kring en later ‘n impak in ander se lewe te maak.
‘n Belangrike onderskeid wanneer dit by verlies en swaarkry kom is dit: God stuur nie noodwendig seer oor ons pad sodat ons later iets vir ander kan beteken nie. Hy gebruik wel die seer van die gebroke wêreld wat ons aan ons eie lywe voel, en help ons om daardie seer om te skakel na sinvolheid; dikwels ten goede van ander mense wat deur soortgelyke seer geraak word.
Hoeveel lewensveranderende boeke is nie al geskryf as gevolg van mense se pyn, foute of verlies nie? Ek dink byvoorbeeld aan boeke soos ‘Disappointment with God’ deur Philip Yancey, en ‘A Grief Observed’ deur CS Lewis, wat albei diep persoonlike temas was vir die skrywers. ‘n Onlangse voorbeeld is Ian Morgan Cron se nuwe boek, ‘The Fix’ wat vroeg in 2025 vrygestel word. Dié boek handel oor die twaalf stappe van herstel vir verslaafdes en word uit ‘n diep persoonlike hoek geskryf, omdat hy die pad van verslawing self gestap het.
‘n Ander sinvolle storie is dié van die Amy Foundation (voorheen bekend as die Amy Biehl Foundation). Amy Biehl, ‘n Amerikaanse student wat destyds in Suid-Afrika praktiese werk gedoen het, is in 1993 vermoor. Haar ouers het die pad van vergifnis en versoening gekies en selfs saam met twee van Amy se moordenaars gewerk nadat hulle amnestie ontvang het tydens die werk van die Waarheids- en versoeningskommissie. Sedertdien doen die Amy Foundation kosbare werk in en rondom Kaapstad deur vir weerlose jongmense geleenthede te bied om ‘n sukses van hulle lewens te maak.
Paulus is ‘n baie goeie voorbeeld van ‘n Bybelse figuur wat sy swaarkry kon gebruik vir impak. In 2 Korintiërs 12 skryf hy oor sy doring in die vlees en dat hy die Here gevra het om dit van hom af weg te neem. Dan sê hy verder: “Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.”
Liewe vriend, as jy deur ‘n uitdagende seisoen stoei wil ek jou bemoedig. Mag jy in jou swakheid beleef dat die Here jou beskutting is. Vertrou dat Hy ook hierdie seisoen kan aanwend sodat daar iets mooi daaruit kan vloei.
Comentarios