top of page

Ons kosbaarste meubelstuk

Oorspronklik 28 November 2024 gepubliseer




Een van ons huis se kosbaarste meubelstukke is ons etenstafel. Dit is veral spesiaal omdat dit ‘n geskenk was van my oorlede skoonpa toe ons destyds Nelspruit toe getrek het. Ons het omtrent gesukkel om die groot tafel in ons huis te kry!

Ek onthou een spesifieke toneel uit die fliek ‘Passion of the Christ’ goed: die toneel waar Jesus besig is om ‘n tafel te maak. Terwyl hy besig is, kom Maria daar aan en Jesus en sy ma begin skerts oor die tafel. Jesus verduidelik vir Maria dat hierdie tafel hoog sal wees, met hoë stoele wat daarby sal pas, met ander woorde, tafels en stoele soos ons dit vandag ken. Maria antwoord dan: “Mense sal nooit jou ontwerp koop nie!”. Etenstafels in Jesus se tyd was lae tafels waar mense rondom die tafel sou sit of lê. Etenstyd was ook ‘n mededeelsame oefening gewees; om saam brood te breek en die brood te doop in dieselfde dis was ‘n bevestiging dat lojaliteit saam gebou word.

Iemand wat iets tasbaar met hulle hande kan maak, soos ‘n tafel, vind sekerlik groot vreugde in die wete dat dit wat hulle gemaak het, deur ander benut word. Een van die mees onderbenutte meubelstukke in ons huise vandag is beslis die etenstafel. Ek vind die gedagte dat Jesus dalk self ‘n paar tafels in sy lewe gemaak het, nogal betekenisvol.

Kerstyd is om die draai! Ons gaan die geleentheid hê om saam met ander saam om ‘n tafel te sit. Kom ons laat hierdie tafeltye tel! Kom ons maak seker dat die ure om die tafel hierdie Kerstyd, in die jare wat kom mooi herinneringe sal wees.

Natuurlik is daar tye om die tafel wat ‘n bietjie meer spesiaal sal wees, maar diep gemeenskap, vertroue en intimiteit word elke dag gebou. Kitspap, brood of ‘n piesang is ook goed genoeg! Die etenstafel is nie kieskeurig oor die tipe kos wat ingeneem moet word nie, solank ons net die tyd saam uitkoop!

Het jy al begin dink aan al die lekker dinge wat jy na uitsien om te eet hierdie Kerstyd? Miskien het jy al ‘n paar resepte bymekaargemaak? Moenie vergeet om ook te dink oor die dinge waaroor jy graag met mense wil gesels nie: hoe gaan ons in mekaar belang stel, hoe gaan ons vertroue bou, hoe gaan ons waardering uitspreek, hoe gaan ons ons tafels oopstel vir ander?

Let hierdie maand bietjie op na die tafels waar jy aansit. Dink oor die stories wat hierdie tafel sou kon vertel oor al die mense wat oor die jare daar kom aansit het. Wees dan dankbaar vir die nederige etenstafel en breek brood saam met dankbaarheid!

Comentários


Recent Posts
bottom of page