'n Bosloerie storie
Oorspronklik 15 November 2024 gepubliseer
Daar was ‘n tyd in my lewe dat die voëlkykers in die wildtuin vir my ‘n onverstaanbare spesie was, maar stadig maar seker het my belangstelling in voëls gegroei.
Een voël wat ek baie graag wou sien maar wat my lank ontwyk het, was die bosloerie. Ek het hom ‘n paar keer hoor roep maar nie gesien nie, selfs ‘n voëlkyk-stap gedoen saam met ‘n voëlkenner, maar helaas het hy my bly ontwyk.
Om en by ‘n jaar gelede wou ‘n vriend my help om ‘n bosloerie te sien wat hy die vorige oggend raakgesien het. Ons het fyn geluister, mooi gekyk, maar al wat wou opdaag is bosloerie se kind. Op pad terug na die lodge waar ons oorgeslaap het, op die “verkeerde” plek om na ‘n bosloerie te soek, vang iets my oog… ja, ek sien rooi, ek sien groen en ek sien ‘n geel snawel! My soektog het einde ten laaste vrugte afgewerp!
Ek het sedertdien weer ‘n bosloerie gesien: ons het een oggend oorgeslaap by ‘n plek, die bosloerie het my uit my bed uit geroep, en met my slaapbroekie aan het ek hom opgespoor in ‘n boom ‘n klipgooi van ons slaapplek af. Het dit al met jou ook gebeur? As die ys eers gebreek is, as dit wat jou vir lank ontwyk het eers sy verskyning maak, sien jy dieselfde ding meer gereeld. Ons het vir lank nie ratels gesien nie, maar toe die eerste een verskyn, het ons daarna ‘n hele paar ander gesien.
Wat ‘n verfrissende gedagte dat daar vandag vir elkeen van ons iets is wat ons nog opnuut moet ontdek, of herontdek. Ons weet nog nie alles nie, ons het nog nie alles gesien of beleef nie. Weet jy, dit is eintlik bevrydend om te kan sê: “Ek weet nie genoeg van hierdie saak nie”… “ek het nog nie genoeg hieroor nagedink nie”… of “ek het nog nie ‘n standpunt hieroor nie”.
Ek het net gister gelees van die ‘Salt Pan daisy’, wat 98 jaar laas gesien is, wat weer ontdek is in die Kaap. Die moontlikheid bestaan dat die plant eintlik nog altyd daar was, maar dat dit misgekyk is. Die artikel noem ook dat daar waarskynlik duisende ander spesies plante is wat wag om ontdek te word.
Waarin wil jy jouself beter bekwaam? Wat weet jy nog nie? Wat wil jy graag in die tyd wat voorlê ontdek, leer of beleef?
My gunsteling einde van enige Bybelboek is die boek Johannes: “Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.”
Daar is ‘n wêreld wat wag om ontdek te word. Is jou oë ingestel vir verwondering? Wanneer ons met verwondering kyk, besef ons dat die membraan wat fisies en geestelik skei, papierdun is.
Comments