Lag jy soms vir jou 'flops'? (Anru Liebenberg)
Oorspronklik 19 September 2024 gepubliseer
Ek en my vrou het onlangs ‘n reeks begin kyk met die naam: “Nailed it! Baking Challenge”. ‘n Groep amateur bakkers leer elke week ‘n nuwe vaardigheid aan en ding mee om uiteindelik $ 100 000 te wen. Wat maak hierdie program uniek? Almal wat deelneem hou van bak, maar die meerderheid is eintlik baie slegte bakkers!
Wanneer die sluier gelig word op hulle skeppings terwyl elkeen sê “Nailed it!” kan ‘n mens nie help om te lag nie! Die meerderheid “nail” dit glad nie! Wat ek wel besef het oor my gelaggery is dat ek nie vír hulle lag nie; ek lag saam met hulle! My vaardighede as bakker is eintlik maar net so sleg soos hulle s’n, en as ek sulke koeke moes bak sou ek in presies dieselfde bootjie gewees het.
Lag ons ooit genoeg vir onsself? In ‘n wêreld waar druk vir ons almal ‘n realiteit is, ‘n wêreld waar die skeidslyne van ekstreme standpunte al hoe duideliker getrek word, ‘n wêreld waar slegte nuus volop op ons elkeen se skerms beland… hoekom lag ons nie meer vir die mensdom se klein denke nie? Ek moet erken, komediante help ons baie hiermee! Hulle verfyn die kuns om ons te laat lag oor dit wat ons eintlik baie kwaad maak of ontstel. Op ‘n manier is die mensdom gedurig besig om ‘n flop van dinge te maak en daarna te sê: “Nailed it!”.
Die gewaarwording gebeur veral wanneer ‘n mens doer bo in ‘n vliegtuig sit, na die wêreld onder jou kyk en besef: ons is eintlik regtig nietige wesens. My grootste ideale, my mees ingewikkelde probleme, die dinge waaroor ons met mekaar baklei is regtig mikroskopies as ons so ‘n bietjie uit-zoem en die groot prentjie probeer bekyk.
Dit laat my dink aan die aangrypende kinderstorie deur Dr. Suess, Horton Hears a Who, wanneer Horton, ‘n olifant, besef dat daar ‘n mikroskopiese gemeenskappie bestaan op ‘n piepklein stukkie stof. Horton word uitgelag deur sy eie mense, maar hy doen sy heel bes om hierdie piepklein mensies te beskerm, al glo niemand anders dat hulle bestaan nie. Nog ‘n baie belangrike tema is die feit dat die piepklein mensies van Whoville salig onbewus is van ‘n astronomies groter wêreld, wat hulle aanvanklik nie van weet of kan sien nie.
Perspektief en bewustheid maak die wêreld se verskil. As ek dink dat ek groot en belangrik is, is dit hoe ek myself in die wêreld gaan beleef. As ek besef dat ek maar ‘n klein mensie is wat deel is van iets wat baie groter en belangriker as ek is (vir ons wat gelowig is: Die Koninkryk, of God se nuwe wêreld) gaan dit my help om my rol vanuit hierdie perspektief beter te verstaan.
Doen jouself en ander ‘n guns: lag meer vir jouself! Wys vir ander (en veral jou kinders) dat jy jouself nie te ernstig opneem nie. Wees deel van iets wat jou klein wêreldjie mikroskopies laat lyk. Dan gaan jy jou plek in hierdie wêreld dalk ‘n bietjie beter verstaan!
Comments