top of page

ADVENTSTYD

Het jy geweet die kerklike jaar begin met Adventstyd? Adventstyd begin die vierde Sondag voor Kersfees en eindig op Oukersaand, 24 Desember. Dit is die voorbereidingstyd wat Kerstyd voorafgaan. Kerstyd duur vir 12 dae vanaf 25 Desember tot 6 Januarie, met die hoogtepunt van Kersfees op die 25ste.

Advent is afgelei van die Latynse woord wat “koms” beteken. Dit verwys na Jesus se eerste koms sowel as sy tweede koms wat nog moet plaasvind. In hierdie tyd vier ons die ingryping van God in die mensdom se geskiedenis om alles wat stukkend is weer heel te maak, deur Jesus se geboorte as mens. Ons hernu ook in hierdie tyd ons hoop dat God dit wat met die eerste koms van Christus begin is, gaan voltooi word met Christus se wederkoms.

Adventstyd fokus op die feit dat ons tans tussen tye leef , van Christus se geboorte tot sy wederkoms. Dit moet ons leefwyse en lewensbeskouing bepaal. As Christene moet ons in die tyd die belange van God se koninkryk bevorder deur akief besig te wees om met liefde te dien.

Daar is verskeie gebruike tydens Adventstyd o.a die Adventskrans, kerse wat op Adventsondae aangesteek word, die Isai-boom en die Adventskalender. Al gehoor van ‘n Adventskalender? Met die Advents kalender kan ‘n gesin lekker betrek word. Dit is ‘n kalender wat julle kan maak met ‘n venster vir elke dag in Adventstyd. Elke “venster” word gebruik om iets van die Adventsverhaal te illustreer. Elke dag word ‘n “venster” oopgemaak en die verhaal wat geillustreer word bespreek.

My Adventskalender: Ek het met ‘n voedingkundige oog na die Bybelverhaal van die mensdom gaan kyk. Daar is baie voorbeelde van Sy voorsienigheid, geloof en andersyds die opdrag om God se liefde aktief te bedien met kos en ook die Evangelie te verkondig. Vervolgens het ek het 24 temas bymekaar gesit.

Voorbeeld

So maak jy: Maak 24 mooi klein koevertjies. Nommer elke koevertjie van 1 tot 24. Sit in elkeen ‘n kaartjie met die “tema” op. Knyp die koevertjies met wasgoedpennetjies aan ‘n stuk lyn vas. Maak elke dag in Adventstyd ‘n venstertjie of koevertjie oop en bespreek as gesin die tema wat geillustreer word.

Temas vir die adventskalender

  1. God gee vir Adam en Eva kos:plante wat saad dra en bome wat saad en vrugte dra.

  2. Die eerste Paasfees: ongesuurde brood, lamsvleis en kruie.

  3. Padkos: die Israelietekry manna en kwartels op die uittog.

  4. Esau vekoop sy eersgeboortereg vir lensiesop.

  5. Verkoop jy jou siel vir kos?

  6. God beveel die kraaie om vir Elia kos te bring.

  7. Die Here belowe die weduwee van Sarfat dat haar meel en olie nie sal op raak nie.

  8. Spreuke: Moenie jou vergryp aan al die lekker kos nie.

  9. Wat is kos se rol in my lewe?

  10. Spreuke: Moenie dat jy verlei word deur die rooi glans van wyn, die vonkel in die beker….

  11. Daniel bedank die koning se kos; verkies om groente te eet en water te drink.

  12. Wanneer vas mens?

  13. Selfs die kleinste wurmpie voed hy….

  14. Wat sal die Goddelike manier wees om met voedsel, liefde aan my kinders te bewys?

  15. Habakuk 3: 17,18

  16. My liggaam is ‘n tempel van God – gesonde eetgewoontes.

  17. Opdrag: Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak.

  18. Hou die voëls in die lig dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymakaar nie……julle hemelse Vader gee aan hulle kos.

  19. God se koningsheerskappy is soos suurdeeg; ‘n klein bietjie deursuur,’n groot baksel meel

  20. Jesus vermeerder 5 brode en 2 vissies.

  21. Want toe Ek honger was het julle nie vir My kos gegee nie; toe Ek dors was, het julle nie vir my iets gegee om te drink nie……

  22. Hoe kan ek in die feesseisoen Jesus se liefde tasbaar bewys met kos, aan hulle wat minder het as ek?

  23. Jesus stel die Nagmaal in.

  24. Hulle het van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier, en hulle kos met jubelende blydskap en alle opregtheid geëet.

Recent Posts
bottom of page