top of page

Additiewe in voedsel: Vriend of Vyand?

Definisie van Voedsel Additief: Enige substans, ongeag voedingswaarde, wat nie normaalweg as ‘n voedsel as sulks, of nie normaalweg ‘n tipiese bestanddeel in die kossoort is, maar doelbewus by ‘n kossoort gevoeg word vir tegnologiese redes. Toevoeging kan plaasvind tydens die prosessering, voorbereiding, behandeling, verpakking, vervoer of berging van die voedsel.

Additiewe word dikwels verkeerdelik beskou as nadelige chemiese bestanddele wat by kos gevoeg word. Om “chemies” eerstens in perspektief te plaas moet mens onthou dat alle materiale op aarde chemies van aard is en so ook alle kos. Die hoeveel heid additiewe wat gebruik word in voedsel is gewoonlik baie min en word deur wetgewing gereguleer. Ons moderne voedselketting het die behoefte na additiewe laat ontstaan weens veilighied, gerief, smaak en voortdurende beskikbaarheid van voedsel.

Sommige additiewe word natuurlik verkry soos lesitien uit sojabone, maar ‘n natuurlike additief soos sitroensuur word dikwels industrieel vervaardig vir kwaliteitskontrole en koste. Butielhidrokinoon word uitsluitlik industrieel vervaardig want dit kom nie in die natuur voor nie. Die liggaam kan nie onderskei tussen ‘n natuurlike of kunsmatige vorm van dieselfde additief nie; die chemiese formule is dieselfde

Klassifikasie

Additiewe wat:

  • Fisiese/fisio-chemiese eienskappe beïnvloed bv verdikkers, emulsifiseerders, stabiliseerders, suurheidsreguleerders, belugtingsagente. Interessant genoeg dat “guar gum”, ‘n verdikmiddel, voedsel se glukemiese indeks help verlaag en kan help om cholesterol te verlaag weens die oplosbare vesel.

  • Sensoriese eienskappe beïnvloed bv geurmiddels, versoeters en kleurmiddels. ‘n Voorbeeld is die kleurmiddel tartrasien wat baie negatiewe publisiteit ontvang. Slegs 1% van die bevolking is moontlik sensitief vir tartrasien, meestal amsalyers. Volgens wet moet dit op etikette aangedui word. Sy ewe kontroversiële maat is MSG oftewel mononatriumglutamaat wat ‘n geur versterker is. MSG kom natuurlik voor in tamaties, sampioene, ertjies en selfs borsmelk. Daar is individue wat sensitief is vir MSG, maar die persentasie blyk baie klein te wees.

  • Temporale eienskappe beïnvloed bv preserveermiddels, anti-oksidante, pekelingsagente. Preserveermiddels is veral belangrik om die risiko vir bakterieë en swamme in voedsels te bekamp en gevolglik die risiko vir voedselvergiftiging te verminder.

  • Voedingswaarde beïnvloed bv vitamiene, minerale en amino-sure.

Die veiligheid van voedsel additiewe is van kardinale belang. Gevolglik word die tipe en hoeveelheid deur wetgewing gereguleer nl “ Foodstuffs, Cosmetics and Disinfectants Act, 1972” en deur die “Food Standards Programmes” van die Wêreld Gesondheidsorganisasie.

So, waar is die gevaar?

Die kans dat jy allerhande vreemde goed van additiewe in matige hoeveelhede gaan oorkom, blyk baie skraal te wees as jy na die navorsing gaan kyk, maar ‘n oormaat kan dalk ‘n reaksie ontlok. Ander moontlikhede om te oorweeg is die volgende:

  1. Om verwerkte of geprosesserde voedsels te koop bv droë skyfies en lekkers van onbekende oorsprong. Goedkoop produkte van elders of uit Piet se agterplaas, wat ons wetgewing ontwyk, mag moontlik gevaar inhou t.o.v die hoeveelheid en kwaliteit van additiewe. Hou by bekende handelsmerke van Suid-Afrikaanse oorsprong of kredietwaardige maatskappye.

  2. Die soutinhoud van vewerkte voedsel is in die algemeen hoog. ‘n Hoë inname van verwerkte voedsel bring indirek ‘n hoë soutinname mee. ‘n Hoë soutinname hou baie potensiële gesondheidsgevare in.

  3. Die voedingswaarde van heel, onverwerkte produkte is in die algemeen beter. Hitte en lig vernietig verskeie vitamiene en ander voedingstowwe kan tydens prosessering verlore gaan. Kombinasies van voedingstowwe en die manier hoe hul deur die natuur verpak word hou die meeste gesondheidsvoordele in.

Ten slotte; die gereguleerde additiewe wat in verwerk

te voedsel gebruik word is veilig en dikwels ook voordelig. Lê wel die klem op gebalanseerde maaltye met meestal onverwerkte voedsel en beperkte hoeveelhede leë energie.

Recent Posts
bottom of page