top of page

Kragtige Koulekker Kosblikke


K staan vir Kragtige Koulekker Kosblikke

“We make a living by what we get, we make a life by what we give” Winston Churchill

Kosblikke – ‘n kruis of ‘n kans? Al ooit gedink dat Kosie se kosblik, teoreties, sy enigste kontak met jou gedurende die skooldag is? Dit is ‘n kragtige voertuig vir waardevolle voedingstowwe en ‘n kreatiewe voertiug om die lewe ‘n beter plek te maak. Kom ons raak opgewonde oor kosblikke en hou die teorie vir ander dag.

Vriendelike voorstelle

Sonder om iets aan ‘n kosblik se inhoud te verander, kan ons dit opwindend maak met voorkoms. Ons hou tog mos daarvan om ook met ons oë te eet? Sit ‘n tikkie omgee by en jy is moontlik die Koningin van Harte.

1. Verras jou kind.

  • Vervang soms die Addis-plastiek-kosblik met ‘n mooi blik of oupa se ou skryfbehoefte blik. Herwin sommer paar blikke in die huis en tooi met ‘n nuwe baadjie – ‘n ou kakao blikkie werk vir grondbone en neute, ‘n blikbeker vir die springmielies.

  • Water smaak baie beter in ‘n mooi botteltjie

2. Verpakking.

  • Draai gewone toebroodjies in papier toe – bruinpapier, geskenkpapier, “tissue”papier, ‘n ou padkaart, mooi servet. Teken ‘n prentjie of skryf ‘n boodskap.

  • Verpak broodjies in ‘n ongedrukte papiersakkie en span jou eie talente in. As alternatief, gebruik geskenksakkies.

  • Kolwyntjies (muffins) kry nuwe status in ‘n mooi doppie of fraai jassie.

3. Verfraai.

  • Verseel die toegedraaide broodjie, hetsy in papier of sakkie, met ‘n mooi plakker. Wasgoedpennetjies of skuifspeldjies (“paper clips”) is alternatiewe met hergebruikwaarde.

  • Katoen tou, lint of hekelgaring kan benut word om jou broodpakkie af te rond of ‘n broodrolletjie bymekaar te hou. Selfs Provitas met ‘n lintjie om sal meer opwindend lyk.

  • Maak vlaggies met papier en tandestokkies. Druk in ‘n rolletjie of kolwyntjie en jou kosblik begin na partytjie lyk.

4. Gebruik ou bestanddele op ‘n nuwe manier.

  • Druk vorms uit die toebroodjies.

  • Maak sosaties van toebroodjie bestanddele of van groente en vrugte.

5. Blikke met boodskappe.

  • Skryf ‘n Bybelvers, boodskap, gediggie of briefie en sit in die kosblik.

  • Fotos. Druk ‘n foto op jou rekenaar uit van die vakansie, familie, troeteldier of sportbyeenkoms. Pak by die kosblik in.

  • Knip interessante feite, ‘n grappie of raaisel uit tydskrifte uit.

  • Sit ‘n “skattejag” boodskap in die kosblik - êrens in die tas is ‘n verrassing weggesteek.

6. Gee om vir ander.

  • So nou en dan kan juffrou of ‘n ander kind bederf word met ietsie ekstra in die kosblik – al is dit net ‘n woordjie van waardering.

  • My man herinner my wel daaraan dat al hierdie fieterjasies by dogtetjies sal byval vind, maar hy is oortuig nie by seuns nie. Toets maar die seuntjies, daar is dalk ‘n snaar waarop jy kan tokkel. Dit is moontlik ‘n goeie geleentheid om hul waardering aan te leer vir die fynere kunsies in die lewe te gee.

‘n Kosblik is ‘n daaglikse manier om Jesus se hande en voete te wees. Verpak menswees en liefde in ‘n kosblik.

Recent Posts
bottom of page