Suiker
Die bron van alle euwel? Daar is baie benouende stories wat die rondte doen rondom suiker, van kanker tot Alzheimers. Om feite en fiksie te onderskei het ons klein bietjie agtergrond nodig. Suiker oftewel sukrose kom natuurlik in plante en heuning voor. Die liewe Vader het spesiaal ‘n ensiem in ons dermkanaal geplaas, nl. sukrase, wat suiker afbreek na sy boublokkies : glukose en fruktose.
Suiker, soos ons dit ken in Suid Afrika, word van suikerriet gemaak. Suikerriet word opgekap en fyngedruk waarna die soet sap onttrek word. Verskeie stappe van filtrasie, verhitting en neutralisasie met kalk word gevolg. Nadat die skoon suikersap verdamp word, vorm ‘n mengsel van molasse en suikerkristalle. Vog word uit die kristalle verwyder met warm lug en rou, oftewel bruin suiker is die produk. Om witsuiker te maak vereis verdere prosessering. Rou suiker word gesmelt en verhelder met kalk,koolstofdioksied en ioon uitruiling. Die mengsel word geherkristaliseer om suiwer wit suiker te vorm.
Suiker word dus nie van nie vreemde chemiese bestanddele gemaak nie, maar die groot gevaar lê in oormatige inname. Dit is gekonsentreerde petrol wat vining bydra tot ‘n verhoogde energie inname. Gevolglik die risiko vir obesiteit, tipe 2 diabetes en hartsiektes. In Amerika het verbruikerstudies getoon dat die inname van toegevoegde suiker 21 teelepels per dag is. Toegevoegde suiker vind veral sy weg deur koeldrank en sportdrankies, lekkers, koekies en nageregte, versoete suiwelprodukte, versoete broodjiesmere, versoete graankos en natuurlik ekstra suiker aan die tafel.
Suiker in matige hoeveelhede voeg geur tot ons lewens toe en kan selfs voordelig wees. Maar matig beteken 5 – 10% van ons daaglikse energie inname. Prakties beteken dit 3 gelykvol teelepels suiker (15g) vir ‘n 2 jarige tot 6 teelepels (30g) vir ‘n gesonde vrou. Dit mag dalk ruim klink maar as ons na alledaagse voorbeelde kyk word dit vinnig opgebruik : 250ml Oros bevat 6t suiker; ‘n koppie Otees graankos bevat reeds 2t suiker; 125ml versoete joghurt bevat 1t suiker. Gooi paar Marie koekies, bietjie Nesquick, ‘n skeppie roomys en ‘n jellie sweetie of 3 by en jou arme 5 jarige het op 1 dag byna die week se suiker toelaag opgebruik!
Prakties beteken dit dat ons moet dink wat ons vir ons kinders gee. Dit bring ons eerstens terug na die emosionele sy van kos – hoekom pak ek vir my kind lekkers en koeldrank skool toe in? Bevredig dit ‘n emosionele behoefte of bevredig dit my kind se behoefte na voedingstowwe? Pas ek “dissipline”toe deur my kind met lekkernye te betaal of te beloon; dink maar aan die uitstappies winkel toe.
Die antwoord is redelik eenvoudig maar die toepassing in ons moderne samelewing dalk bietjie moeliker. Kies eenvoudiger, meer onverwerkte produkte waar jy self besluit wat bykom. ‘n Voorstel is om meer kere self ontbytpap te kook en minder kere versoete graankos te gee. Bederfies sluit lekkers, koekies, nagereg en koeldrank in. Beperk die inname tot 1 – 2 keer per week veral by klein kindertjies. Verdun koeldrank met rooibostee en bied kleiner porsies aan. Dit is belangrik om te onthou dat bederfies leë energie voedsel is. Met ander woorde daar is nie voedingstowwe in nie behalwe baie energie en dit steel gewoonlik die plek van kos wat ‘n voedingsbydrae moes maak. Vars vrugte is die eerste opsie as versnapering tussen etes. In die somer kan vrugte verpulp word en op stokkies gevries word as ideale versnapering. Namate kinders ouer word en sport doen kan die koeldrank na oefening of sport aangebied word aangesien hulle totale energiebehoefte vermeerder.
Besluit hoe jul “tafel”suiker in die huis gebruik – 3 t per dag? Dit sluit dan konfyt, heuning of stroop en Nesquick in. Soos vroeer genoem het groter, aktiewe kinders ‘n ruimer toelating vir suiker, maar neem in ag of jou kind se gewig normaal is en dat suiker ‘n ekstra energie aanvulling tot ‘n gebalanseerde dieet is.
Klink dalk oorweldigend? Begin met klein veranderinge, maar werk met ‘n plan