Winter Gereg
Stilletjies kruip die winterluggie in. En byna onbewustelik begin ons soek na iets wat sagter en ryker op die tong is: iets wat so van binne tevredenheid bring en die vaal bietjie meer draaglik maak. Dit kom waarskynlik uit ons primitiewe geskiedenis toe klere maar skamel was en temperatuurregulering deur die son geskied het. Vandag kan die soeke ons in die moeilikheid bring met ‘n traagheid by ons kinders en 2kg ekstra om die midrif nadat ons gehiberneer neer het. Met ‘n bietjie kreatiwiteit kan ons ligvoets na die lente trippel.
Daardie “ronde” smaak word maklik met vet bewerkstellig. Wees bedag op die gebruik van volroomprodukte, room by kos en daardie ekstra bottertjie. Alhoewel volroom joghurt meer vet as laevet joghurt het, is dit ‘n laer vet alternatief vir room in geregte soos Stroganoff of Goelasj. Suiwel is ‘n kritiese komponent van ‘n gesonde dieet. Behalwe vir al die gesondheidsvoordele help dit om groeiende kinders versadig te hou. En wat is lekkerder as ‘n glasie warm melk met ‘n skeut vanilla of neutmuskaat (vir die avontuurlikes) voor slaaptyd? Daar is wel ’n slang in die gras. Volroommelk bevat 1 teelepel botter per 250ml meer as laevet melk en deur eerder laevet suiwel te gebruik bespaar ons maklik 2700kJ ‘n week of ‘n halwe blok “botter” per maand.
Verskillende tipes vet het almal dieselfde hoeveelheid energie per gram, maar verskil baie t.o.v die effek op gesondheid. Vet afkomstig van diere is in die algemeen minder voordelig en word na verwys as versadigde vet. Dit is wenslik om versadigde vet met meer onverwerkte plantvet of –olies te vervang soos avokados, avokado-olie, grondboontjies en grondboontjiebotter, neute en neutolies, saadjies, olywe en olyfolie, Canola olie. Hoewel hierdie vette gesond is, moet dit spaarsamig gebruik word weens die hoë energie inhoud.
Voorstelle:
As ons bietjie sny aan die vet, moet ons opmaak met geur. En deur die Here se fyn beplanning, gee speserye nie net geur in die winter nie, maar ‘n wa-vrag voedingstowwe. Gebruik mildelik-kerrie, borrie, paprika, peper, kaneel, komyn, koljander, kardamom, anys, naeltjies, neutmuskaat, gemmer en gooi die knoffel en uie by. Vars kruie soos roosmaryn, basiliekruid en tiemie verrig wondere.
Maer vleis of hoender waarvan sigbare vet verwyder is kan droog wees. Maak ‘n smeermiddel om bo-oor te vryf – meng Canola of olyf olie, mosterd, suurlemoensap, gekneusde knoffel, bietjie heuning of bruinsuiker, kruie, speserye, sout en peper na smaak
Voldoende groente en vrugte is essensieel vir goeie gesondheid en om energiebalans te handhaaf. Maar dit is ongelukkig ook die aspek van maaltye wat die meeste afgeskeep word. As die groente nie gebotter en gesuiker word, is dit in elk geval ‘n verlore saak! Stoom groente sodat dit nog bros is. Meng suurlemoenskil, olyfolie, knoffel en roerbraai vlugtig. Bietjie gekapte neuteof sprinkeling saadjies gee ‘n variasie van tekstuur. Trek bietjie die pampoen se karamelbaadjie uit en sit ‘n kaneelstokkie of naartjie skil in die kook water. Roerbraai kortliks op die einde in klein bietjie macadamia olie en gekapte macadamia neute, sprinkel met kaneel.
En wat van die koue slaaierige goed? Bedien jou slaai in die winter as vinnige groentesop. Alternatiewelik kan jy tamatie halwes in die oond bak of baba tamaties roerbraai tot die velletjies bars. Bedien met balsamiese asyn en vars basiliekruid. Rasper ‘n appel by wanneer jy hawermoutpap kook of sit die heel appel in die mikrogolf en bedien as gebakte appel. Haal die lemoenkwarte uit na sportoefening wanneer dit warmer is en die kinders dors is.
Maak vloeistofinname optimaal deur alternatiewe vir water beskikbaar te hê. Vars groentesop bied nie alleen ‘n metode vir toereikende groente inname, maar help ook om vloeistofinname te optimaliseer.’n Fles rooibostee kan water aanvul. Geur met kaneel en gemmer of bietjie suurlemoensap. Hou wel ‘n ogie oor die hoeveelheid suiker of heuning wat gebruik word.
Brokkoli en appelsop (6 persone)
(Aangepas uit Lynn Bedford Hall’s All - Colour Cookbook)
25ml Canola olie
1 piekeluitjie, gesny
3 groot preie, gesny
300g brokkoli, gesny
2 Golden Delicious appels, geskil en blokkies gesny
1 liter hoenderaftreksel
Paar takkies pietersielie
2 lourierblare
2ml sout
1ml vars gerasperde neutmuskaat, plus bietjie ekstra
125ml melk
Verhit olie en sweet ui en preie oor lae hitte tot sag. Voeg brokkoli en appels by en roer deur. Voeg aftreksel, pietersielie, lourierblare , sout en 1 ml neutmuskaat by. Bedek en prut 20min. Verwyder lourierblare en voeg melk by. Puree tot glad. Herverhit soos benodig. Voeg knippie neutmuskaat by.
Onthou die breinoorplanting – plig voor plesier, gesondheid voor rondheid!