top of page

Hoe gaan ek dit ooit regkry om anders te eet?

Ons liggame is baie fyn beplan met verskeie sisteme om balans te handhaaf; hetsy jou suurheidsgraad, vogbalans, bloedsuiker of liggaamsmassa. Onder andere is daar ‘n honger en versadigingsentrum in die brein wat jou aptyt reguleer. Maar, soos ons vantevore na eetgedrag gekyk het is daaar geen sisteme om sosiaal, fisiese of emosionele faktore wat tot “eet” aanleiding gee, te beheer nie. Kort voor lank vorm die reaksie op die aanleidende faktore dan jou eetpatroon.

Eenvoudig gestel, hoe verander mens jou eetpatroon? Die goeie nuus is dat dit nie oor selfbeheersing gaan nie, want daardie gawe is baie yl gesaai. Nee, verstaan hoekom (vorige plasings oor voeding) jy optree soos wat jy doen. Vervolgens moet ek besluit hoekom dit die moeite werd is om te verander – my motivering. Onthou dat enige gesonde mens sy gedrag kan verander, maar ons inherente natuur bied weerstand teen verandering!

Met gedragsmodifikasie poog ons daarin om “eet” as gedrag te vervang met meer toepaslike gedrag. Ons kan selde die aanleidende faktore tot eet (anders as wanneer jy honger is) verander, maar ons kan die reaksie daarop verander met positiewe gevolge. Ter illustrasie volg ‘n voorbeeld. Janie geniet elke middag as sy tuis kom na ‘n dag se werk, ‘n koppie tee met karringmelk beskuit. Die aanleidende faktor is beloning na ‘n harde dag. Tee en beskuit eet is die gedrag. Gevolge wat daaruit spruit is legio – massatoename, verplasing van voedingstowwe want sy is nie honger by aandete nie, maar knagerig teen 21h00 ens. In die geval van kinders met beperkte kapasiteit is die effek verreikend. Die beter keuse sal wees om jou koppie tee te maak, jou skoene uit te skop en vir paar minute na jou gunsteling musiek te luister as beloning. As jy honger is, verander die prentjie natuurlik en is ‘n volgende hoofstuk.

Vervolgens ‘n paar voorstelle om die bul by die horings te pak:

  • Identifiseer die aanleidende faktore en verstaan jou redes vir die “eet” gedrag. Dit kom al ‘n lang pad en is verskeie kere versterk – ‘n pad in jou brein gegeraveer soos ‘n treinspoor. Onthou dat jou keuses ook jou kinders se eetpatrone vaslê – beloning en dissiplinering met veral lekkernye, troos met kos. Mamma bak blikke beskuit vir eksamen want sy dink haar bloedjie is baie honger. O nee, die verveling en verligting van hierdie onaangename naamlik studeer!

  • Word kreatief om alternatiewe vir jou gedrag te kry. Om eet uit verveeldheid te oorkom, kan jy‘n stokperdjie kry of liefdadigheidswerk begin doen. Om te eet uit woede kan vervang word met ‘n stel trappe klim. Beloon jou kind se mooi rapport met ‘n storieboek i.p.v ‘n melkskommel. Doen ’n flink stappie saam met ‘n vriendin wanneer jy depressief voel. Om ‘n appel te eet as jy ongelukkig is mag dalk ‘n gesonde keuse wees, maar is steeds om die verkeerde rede – slaan ‘n kussing!

  • Wees pro-aktief, bedink jou aksieplanne voordat jy in die situasie is. Hoe hanteer ek my woede by die werk ipv die sjokolade? Watter struikelblok moet ek uit die weg ruim, sodat ek my eie middagete kan inpak?

  • Wees verdraagsaam met jouself, die gedrag is lankal neergelê en versterk. Erken positiewe veranderinge en versterk dit. Soms gaan jy suksesvol wees, maar mislukkings is onvermydelik – gaan aan.

  • Moenie gedrag onderdruk nie (selfbeheersing probeer toepas nie!), want dit berus nie en kom met mening terug. Neem kennis van jou behoefte en vind uit hoekom jy dit wou doen. Ek smag na sjokolade; maar het nooit middagete gehad nie. Jou petroltenk is eenvoudig leeg, maar jy het aangeleer om dit met sjokolade vol te maak.

  • Stel klein, haalbare doelwitte wat jy weekliks kan meet bv eet 1 vrug ekstra/dag of doen 5min oefening 2 x week. Hulle moet jou pas. Meeste mense faal omdat hul doelwitte te groot is.

  • Om sukses te behaal met permanente gedragsverandering, beteken my brein moet positiewe inligting kry. Klein doelwitte is haalbaar en gee positiewe gevoel van sukses. Groot doelwitte is maklik om te faal wat die indruk skep van mislukking. Herskryf jou doelwitte as jy sukkel om sukses te behaal. Klein bietjies word later baie.

  • Erken en beloon jou vordering ongeag hoe klein die resultaat is. As ek goed voel oor myself bevorder dit my uithouvermoe.

Motivering kom van binne en dit rig my dryf tot verandering. Herinner jouself gereeld hoekom dit die moeite werd is om stroom op te swem en visualiseer die positiewe einde. Natuurlik hoef ons nie al die plesiertjies prys te gee nie, maar hoe gereeld word hul geniet? As ek die meeste voedselkeuses vir my en my gesin se goeie gesondheid maak, dan geniet ons die voorreg van die plesiertjie vir wat hy is.

Recent Posts
bottom of page