top of page

Die Huwelik……en kos

Die Huwelik……en kos. Ek moes bietjie nadink , maar het die antwoord gekry. “Die pad na ‘n man se hart loop deur sy maag” was die advies aan baie voornemende bruidjies. In ons moderne eeu moet ons ongelukkig die gesegde bietjie aanpas na “die pad na sy verstopte, verharde are en vergrootte hart loop deur sy boepens.” En wat amper nog erger is, is die feit dat kinders se gesondheid die slagoffers word van ouers se ongesonde voedselkeuses. Klink darem baie kru! Niemand maak voedselkeuses om ‘n ander te benadeel nie, veral nie hulle wat ons die liefste het nie. Maar die resultaat van ons keuses is diwels onbewustelik, direk verantwoordelik vir ons en ons kinders se ongesondheid. En die grootste “genetiese ” komponent wat ons as ouers aan ons kinders oordra is die aanleer van ‘n ongesonde eetpatroon.

In ons eerste ontmoeting is daar genoem dat eetgedrag ‘n baie sterk sielkundige komponent het; anders het ons almal tog lag-lag gesonde voedselkeuses gemaak. Om ons ongesonde eetpatroon te verander, moet ons ietsie verstaan van die oorsprong van ons eetgedrag. In die sielkundige wêreld het hulle met ‘n model vorendag gekom waarvan hulle praat as die “ABC of behaviour modification”.

A is die aanleidende faktore tot gedrag ;

B is die gedrag (behaviour) en

C is die gevolg (consequence) van ons gedrag.

Kom ons pas dit op ons eetpatroon toe, waar eet dan die “gedrag” is waar daarna verwys word en wat ons wil verander.

A – Aanleidende faktore tot eet (anders as vir oorlewing)

  • Sosiale faktore - interaksie met mense het ‘n sentrale rol bv besigheidsetes en funksies, sosiale afsprake bv “coffee shop”ontmoetings, kuier wat rondom kos sentreer.

  • Fisiese faktore – sintuiglike blootstelling bv beskikbaarheid van kos/lekkernye in jou yskas of koskas, in jou laai? Reuke (bakery oorkant jou kantoor), advertensies van nuwe roomys ens.

  • Emosionele faktore - eet om te troos, gee kos as beloning, eet uit frustrasie, woede, hartseer, depressie,verveeldheid.

B – Gedrag is eet. Hier is ‘n paar voorbeelde waar eet as gedrag voortspruit uit emosionele aanleidende faktore:

  • Ons ry in die wildtuin rond, en eet heerlik lekkers en skyfies. (verveeldheid)

  • My student verorber ‘n blik beskuit in 3 dae tydens die eksamen. (het niks te doen met verhoogde energie behoefte nie, maar dit is uiters vervelig of ‘n minder aangename taak)

  • As jy soet is in die winkel (of kerk!), kry jy ‘n lekker. (beloning)

  • Ek is nou so ontstig dat net sjokolade my beter sal laat voel! (troos)

C – Gevolg van eet om verkeerde redes. Wat is die gevolg as ek my kind se goeie gedrag elke keer beloon met kos? Of andersom, wat is die gevolg as ek “wangedrag” probeer voorkom deur lekkernye aan te bied? So kan die gevolge van verskeie kombinasies van faktore bydra tot bepaalde eetgedrag wat nie spruit uit honger nie. Duidelik sal ‘n kitsdieet geen langtermyn voordele inhou aangesien dit nie die denksentrum van gedrag aanspreek nie.

Tot volgende keer!

“You cannot think well, love well, sleep well, if one has not dined well”. Virginia Woolf. Solank “dined well” impliseer dat dit gesond is!

Recent Posts
bottom of page