top of page

Woorde wat lewens kan verander (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 15 Augustus 2024 gepubliseer


Ek het onlangs ‘n The World Needs a Father konferensie bygewoon, wat baie betekenisvol was. Daar was persone wat leiers in hulle onderskeie velde was wat insigte kom deel het waaroor ons wat na hulle geluister het, nog lank gaan dink. Een van die gesprekke wat vir my besonder baie beteken het, was van ‘n man wat in twintig minute onder andere sy lewenservaring kom deel het, maar wat hy kom deel het, het my al veel langer as twintig minute laat dink!

Hy het genoem dat hy en sy vrou ‘n tweeling aangeneem het toe hulle nog baie klein was. Op ‘n stadium in hulle nuwe ouerskapsreis, het sy vrou vir hom gesê dat die kinders huil, maar dat dié huil anders was as die tipiese huil van ‘n baba wat honger is of byvoorbeeld té warm kry; hy het genoem dat dit (in Engels) meer wailing as crying was. Hierdie kinders, wat nie ‘n betekenisvolle binding met ‘n pa gehad het nie, het die stem van ‘n pa nodig gehad. So het hy begin om in die aande vir hierdie kinders te sing en hulle te seën met sy teenwoordigheid en betekenisvolle woorde van die Here af. Na ‘n ruk het hulle nie meer so gehuil nie.



Dié man het ook eendag vir ‘n klompie manne wat saam met hom op ‘n plaas gewerk het, gevra of daar iemand was wat in hulle lewe deur ‘n betekenisvolle figuur soos ‘n pa, ma, oupa of ouma geseën is, met ander woorde, was daar iemand wat jou waarde bevestig het toe jy jonger was? Niemand kon ja antwoord nie. Hy het ‘n volgende vraag gevra: “Hoeveel van julle is gereeld geskel of gevloek as kinders?” Feitlik almal het toe hulle hande opgesteek. Hy het toe dit op homself geneem om hierdie mense se waarde te begin bevestig deur sy woorde, en hulle gereeld te seën met ‘n spesiale boodskap van die Here af.

Hierdie woorde, deur Cassie Carstens, was onder andere by die konferensie op die muur van die ouditorium opgeplak: “Affirmation is a stronger educator than correction.”

As ouers het ons die voorreg om elke dag iets te bevestig in ons kind se lewe: die feit dat ons raakgesien het dat hulle gehelp het, omgegee het, vasgebyt het, en dat dit vir ons mooi was om dit te sien. Ons bevestig ook op ‘n spesiale manier wie hulle is: doelbewus geskep met ‘n spesifieke roeping om die wêreld beter te maak, geliefd deur nie net hulle ouers nie, maar deur die lewende Here self. So kan ek aangaan… ons kan boeke skryf oor al die dinge wat ons kan sê om ons kinders se waarde te bevestig.

Die gesprekke wat ek aangehoor het oor woorde van bevestiging en seën het my weereens laat besef: ek en jy kan elke dag kies watter stem ons in die wêreld gaan wees. Gaan jy die oorkritiese stem wees of die een wat komplimenteer, gaan jy alles uitwys wat nie goed genoeg is nie of gaan jy die een wees wat bemoedig, gaan jy kritiese oomblikke aangryp om te sê wat ‘n kind, eggenoot, vriend of kollega nodig het om te hoor, of gaan jy die geleentheid deur jou vingers laat glip?

Comments


Recent Posts
bottom of page