top of page

Wie is jou 'village'? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 5 Augustus 2022 gepubliseer


Ek onthou die eerste keer toe ek ‘n chiropraktisyn jare gelede besoek het baie goed. Mense het my min of meer voorberei op wat om te verwag, maar toe ek die eerste keer my asem moes intrek en kort daarna word my nek geruk dat ‘n mens net werwels hoor kraak, was dit nogstees ‘n aardige gevoel! Die aardigheid was kortstondig, maar die verligting het dit die moeite werd gemaak. Die een ding wat die chiropraktisyn nié vir my kon doen nie, was om te sorg dat ek nie weer by hom ‘n draai moes maak nie. Dit geld vir die fisioterapeute en biokinetikuste wat ek ook al moes besoek! Die rede is eenvoudig: die oefeninge wat na my afsprake moes volg, was my eie verantwoordelikheid.

Die ander kant van die munt is wanneer mense (dikwels mans) ‘n afspraak uitstel en vermy soos die pes. Ek praat uit ervaring: my vrou kry omtrent die horries omdat ek so een maal in sewe jaar die tandarts besoek!

Daar is sekere dinge in ons lewe wat nie in die hand van ‘n professionele mens behoort te lê nie. ‘n Onderwyser kan my kind opvoed en selfs inspireer, maar karakter moet hoofsaaklik by die huis gekweek word. ‘n Gemeente kan vir ons kinders en tieners ‘n ruimte skep om meer oor die Here en die Bybel te leer, maar dit is by die huis waar die Jesus-lewe uitgelééf en beoefen moet word. ‘n Sielkundige of lewensafrigter kan saam met my probeer sin vind en help soek na beter maniere om te leef, maar hulle kan nie verantwoordelikheid neem vir my gesondheid en die manier hoe ek verhoudings aanpak nie.

Jy ken seker die aanhaling: “It takes a village to raise a child”? Dit is een van my gunstelinge. Die hartseer is dat wanneer ons dit soms die meeste nodig het, onttrek ons van die ‘village’. Wanneer die skade gedoen is, dan keer ons terug en vertel vir die ‘village’ van die moeilike tyd wat ons deurgemaak het… amper soos wat ek met my tandarts maak! Wanneer die skade alreeds gedoen is, dan vra ek vir haar om asseblief ‘n wonderwerk te verrig.

Moenie skaam wees om jou ‘village’ te nader wanneer jy hulp nodig het nie! Maar ook: ons gemeenskap, die plek waar ons kan behoort, is eintlik bedoel om daar vir ons te wees deur al die oppe en awwe in ons lewe. Ons ‘village’ is nie net krisisbestuurders nie.

Maak gebruik van die mense rondom jou wat kan en wíl help. Daarmee saam: die voorneme om verantwoordelikheid vir die welstand van jou eie lewe te neem.

Comments


Recent Posts
bottom of page