top of page

Wie beheer vir wie? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 18 Maart 2022 gepubliseer


Een van ons waardevolste vaardighede om produktief te werk, sinvol te leef en op verhoudings te fokus, is die vermoë om onsself te kan reguleer. Dit is ongelukkig ook een van die vaardighede wat die meeste onder beleg is in ons wêreld.

In ‘n samelewing waar so baie dinge meeding vir ons aandag, het ons die keuse om so gou soos wat ons belangstelling verloor, ons aandag te vestig op iets meer interessant, of iets wat aan my meer vermaak of plesier verskaf. Vanuit my werk sien ek gereeld raak hoe vinnig mense (veral jongmense) belangstelling verloor en doodeenvoudig nie meer kies om te luister of aandag te skenk nie. ‘n Sosiale platform soos TikTok se strategie is meesterlik: ‘n video is slegs 30 sekondes lank, maar ons kan maklik vir ‘n halfuur of ‘n uur lank video’s van 30 sekondes lank kyk.

Dit is sekerlik nie ‘n nuwe tendens nie, maar ons het vandag ‘n wye verskeidenheid opsies om eerder mee te ‘medicate’ as om sinvol te selfreguleer. As ek nie vandag lekker voel nie, is my kredietkaart ‘n geduldige vriend, wat my vinnig weer laat beter voel. Dit is makliker om ons kinders met iets soos ‘n skerm te sus, of te gee wat hulle nóú wil hê, as wat dit is om saam met hul op ‘n sinvolle manier deur bepaalde emosies te werk, of grense te stel, wat eintlik ons kinders veiliger laat voel.

Die Bybel verwys na selfbeheersing, en dat dit eintlik ‘n eienskap is wat die Gees vir ons as ‘n geskenk gee. Hoe so? Wanneer die Gees my wil, denke en emosies beheer, dan gee ek eintlik aan die Here toestemming dat ek nie altyd alles hoef te kry wat ek nóú wil hê nie. My gulsige aptyt vir bevrediging, erkenning of ‘n vinnig-beter-voel-emosie is nie goed vir die verhoudings rondom my nie. Die Gees stel my in op wat die Here wil, en wat mense rondom my nodig het. En daarom leer die Here ons om meer nee te sê vir ons eie goedkoop oplossings en om meer ja te sê vir die harde(r) werk van selfregulering.

Ek kan aan twee insidente dink waar Jesus as mens waarskynlik selfregulering toegepas het (dink ek). Die een keer was toe ‘n vrou (en man, natuurlik) betrap is wat owerspel gepleeg het. Die geestelike leiers was gereed om haar te stenig, maar wou Jesus sommer ook probeer vasvra. Jesus het, voordat hy hulle geantwoord het, met sy vinger in die sand geskryf. Wat hy geskryf het, weet ons nie. Sy antwoord, waaroor hy mooi gedink het, het die vrou se fisiese en geestelike lewe gered. Die ander keer was voordat Jesus die tafels van die verkopers in die tempelplein omgekeer het. Die evangelie van Johannes vertel vir ons dat Jesus vooraf eers ‘n sweep gevleg het, voordat hy oorgegaan het tot aksie. Dit vat ‘n hele rukkie om ‘n sweep te vleg! Jesus sou genoeg tyd gehad het om sy emosies en sy woorde te weeg. Sy optrede was met ander woorde nie uit blinde woede nie, maar Jesus se dade en woorde was geregverdig en gefokus.

In ons pogings om onsself te reguleer en die mense in ons huis te begelei om dieselfde te doen, kan hierdie vraag dalk help: “Wat maak regtig saak? Hoe bepaal dit wat my volgende keuse gaan wees?”

Vir meer inligting oor hoe ons ons kinders kan help hiermee, lees gerus dié artikel deur Dr. Ashley Soderlund, kliniese sielkundige: https://nurtureandthriveblog.com/how-to-teach-your-child.../

Comentarios


Recent Posts
bottom of page