top of page

Wees in die oomblik (JZ de Jager)

Oorspronklik 27 Augustus 2021 gepubliseer


Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat sê: Stop and smell the roses. Die lewe raak soms so besig dat mens maklik die klein dingetjies in die lewe kan mis. In ons huis is daar ‘n kleuter en ‘n peuter en dit sorg elke dag vir klomp vreugdes en frustrasies. Tog is dit so dat ons nog voordat ons kinders gehad het ‘n besluit gemaak het dat ons kwaliteit tyd met elkeen van ons kinders sal spandeer. Sommige dae gaan dit maklik en sommige ander dae gaan dit nie so maklik nie.

As ek nou praat van kwaliteit tyd dan dan bedoel ek dat mens bewustelik moet besig wees met waarmee hulle besig wil wees. Ek vang myself partykeer dat ek saam met die kinders besig is met iets en dan kyk en luister ek nie eintlik vir hulle nie, ek sê net dinge soos “mmm” of ‘regtig?’ of ‘dit kan seker nie wees nie’.

Hoe kan ons onsself help om meer in die oomblik te wees?

Sien raak wanneer jy in die oomblik is. Die ander dag toe ons ons dogtertjie se fiets se kant wiele afgehaal het, het ons haar net dopgehou en haar bewonder vir hoe vinnig sy dit reggekry het om self te ry sonder kant wieletjies. Ons het eers later gedink ons moes seker meer foto’s en videos neem. Maar die oomblik was net so groot dat dit alles anders oorheers het.

Erken as jy nie in die oomblik is nie. Ons seuntjie is in ‘n fase waar hy net self wil kos maak en koffie aandra. Ons kan ons verkyk aan hom. Maar hierdie speletjie kan nogal lank en uitputtend raak as mens elke keer moet maak of die swembadwater soos koffie proe of die klei soos ‘n pizza smaak. Al probeer mens om in die oomblik te wees gebeur dit dat mens se gedagtes begin dwaal en later vat jy die koppie met die water en gooi dit net uit… as mens dan sy gesig sien en besef wat jy gedoen het dan voel mens sleg. Al wat jy dan kan doen is om te erken ek was nie nou by nie en hom dan weer aan te moedig om maar ‘n nuwe koppie koffie te maak. Net deur te erken en aan te moedig is mens weer in die oomblik teenwoordig.

LOS JOU FOON UIT! Dit klink redelik maklik genoeg om te doen. Maar ons het allerhande verskonings oor hoekom ons ons fone by ons moet hê. Ons moet ‘n foto of video neem om vir die oumas en oupas te stuur. Ons moet die oomblik vasvang om altyd te onthou. Maar die oomblik wat ons ‘n foto neem en aanstuur en daar word gereageer op die boodskap begin daar gesprekke op die foon en dan voor jy jouself kan kry is die oomblik verby. Moedig jouself of jou mense aan om soms sonder ‘n foon te wees om sommer net die oomblik te geniet.

Soms moet jy NEE sê vir ander sodat jy kan JA sê vir jou kinders. Daai bietjie tyd saam met ‘n vriend of vriendin kan kosbaar wees, maar wanneer jou kind heelweek uitgesien het daarna om ‘n Krismis bed voor die televisie te maak om saam storie te kyk en julle doen dit nie kan die teleurstelling baie groot wees. Wie weet, dalk is die saam met die kinders lê voor die TV juis dit wat maak dat hulle eendag hulle hart teenoor jou oopmaak omdat hulle weet dat tyd saam met hulle is vir jou belangrik.

Sien elke oomblik saam met jou kinders as ‘n geskenk. Dit is ‘n groot kopskuif! Want ek sien nie noodwendig dit as ‘n geskenk wanneer ek 05:30 saam met ons seuntjie moet blokkies bou omdat hy nie meer wil slaap nie. Maar wanneer ek mooi dink daaroor en besef watter voorreg ek het om saam met hom blokkies te kan bou en te sien hoe lekker dit vir hom is dan kom ek baie vinnig oor myself en geniet die tydjie saam met hom, wie weet vir hoe lank ek dit nog sal kan doen?

Miskien moet ons nie praat van Stop and smell the Roses nie, maar eerder van Stop and enjoy your kids!

Comentários


Recent Posts
bottom of page