Watter plek het Jesus aan jou kerstafel? (Anru Liebenberg)
Oorspronklik 17 Desember 2021 gepubliseer
Wat is jou herinneringe as kind wanneer jy dink aan Kerstyd? Een besoeker wat feitlik elke jaar sy verskyning by ons gemaak het, is die nederige waatlemoen! Onthou jy die dae toe ons met R 20 ‘n tamaai waatlemoen kon koop?
Kerstyd bied aan ons die ideale geleentheid om seker te maak dat wat ons doen, met betekenis en intensie gevul word.
‘n Paar idees wat jy en jou gesin kan oorweeg:
- Maak seker dat die geskenkies onder jul kersboom, een insluit vir iemand wat die geskenkie regtig nodig het, soos ‘n gesin wat ‘n behoefte het aan kos, of ‘n maatjie wat min of meer so oud is soos jou kind(ers) wat nie andersins ‘n geskenkie sal kry nie.
- Maak seker dat die Kersverhaal ‘n ereplek aan tafel kry! Dink aan kreatiewe, ouderdomstoepaslike maniere hoe die verhaal van Jesus oorvertel of beleef kan word. Om kersliedere saam te sing is altyd ‘n goeie idee!
- Doen iets as gesin waar dankbaarheid en/of waardering uitgespreek kan word. Oukersaand kan elkeen ‘n kans kry om een ding te noem waarvoor hul dankbaar is, of die persone aan tafel kan elkeen ‘n kans kry om waardering uit te spreek teenoor ‘n ander persoon.
- Ons kan mekaar sensitief maak vir hoe ander mense se Kersfees lyk. Indien jou gesin reis, kan jul wanneer jul deur ‘n dorp ry, as gesin fokus op die mense by wie jul verbyry. Dit kan ‘n geleentheid bied om die vraag te vra: “Wat dink jy sou daardie oom dalk op oukersaand eet?” of: “Watter geskenk dink jy sal daardie tannie graag wil hê?”
Kersfees is in ‘n sekere sin soos ‘n huweliksherdenking. As my huwelik iets is wat vir my baie kosbaar is, dan bied ‘n herdenking vir my die geleentheid om dit te vier. Dit is dan die spreekwoordelike kersie op die koek! Maar wanneer my huwelik ‘n bron van kommer en frustrasie is, is ‘n herdenking soms soos ‘n uitroepteken: dit herinner my aan dit wat nié reg is nie. Kersfees bied dalk vir jou die geleentheid om opnuut die verbintenis te maak om aan Jesus die voltydse plek aan jou tafel te bied wat Hom toekom.
Mag hierdie Kerstyd vir jou en jou geliefdes ‘n betekenisvolle, vreugdevolle tyd wees!
Comments