top of page

Wat staan 'n entjie verder van jou af? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 20 Maart gepubliseer

Ek het onlangs gaan draf, en die roete wat ek die meeste van my huis af volg, gekies. Wanneer ek gewoonlik dié roete draf, is daar ‘n paar plekke waar ek stop om vir ‘n rukkie te stap. Dié oggend het ek op nóg ‘n plek gestop (ja, ek was moeg!). Toe ek stop, trek iets in die hoek van my oog my aandag: ‘n rooiduikertjie staan ‘n paar meter van my af in die bosse. As jy al ‘n rooiduiker dopgehou het, sal jy weet dat dit maar ‘n skugter bokkie is, maar hierdie een het vir ‘n hele ruk vir my gekyk, en ek vir haar. Wat vir my so besonders was van dié interaksie was die feit dat ek op ‘n besige pad gehardloop het. ‘n Entjie van die raserige, besige pad, was ‘n ander werklikheid. Al wat ek moes doen om vir ‘n oomblik ‘n deel van daardie wêreld te beleef, was om te stop waar ek gewoonlik nie sou nie.

‘n Besige skoolkwartaal is verby. Soos baie ander mense, is jy waarskynlik dankbaar dat ons vir eers ‘n ander roetine kan volg en kan kies om hier en daar te stop waar ons gewoonlik nie kan nie.


Ek wil graag eers iets sê oor ons ‘kwartaal-realiteit’, of as jy nie kinders het nie, ons ‘werk-realiteit’; met ander woorde: die tyd wat ons nié rus of met vakansie is nie. Soms bied ‘n eenvoudige stop langs die pad, waar ons gewoonlik nie sou stop nie, ‘n geleentheid. ‘n Eenvoudige breek met jou huidige (dikwels uitdagende of oorweldigende) werklikheid bied soms ‘n vars perspektief wat veroorsaak dat ons daarna weer betekenisvol kan inklim in ons lywe.



As jy ‘n gelowige is, kan hierdie eenvoudige stop gevul wees met die wete dat die Here vir ‘n oomblik jou aandag wil aftrek van waar jy nou is, sodat jy weer met die regte ingsteldheid kan terugkeer na waar jy moet wees. ‘n Eenvoudige vraag of gebed kan jou oë oopmaak vir wat jy voorheen nie kon raaksien nie, byvoorbeeld: “Here, waarop wil U my aandag nou vestig?” of “Here, waarmee is U nou besig in en rondom my?” of “Is daar iets wat ek tans nie raaksien nie wat die Here my wil wys?”.

Ek het nou die oggend tydens my draffie gestop waar ek nie gewoonlik sou nie, omdat ek moeg was…ek het uitgesak. Het dit al in jou lewe met jou gebeur? Jou verantwoordelikhede vereis dat jy moet aangaan, maar jou gemoed sê jy sien nie kans nie. Ek glo dat ons minder gaan uitsak en motivering verloor as ons padlangs vir kort oomblikke die ander realiteit opsoek, vir ‘n oomblik stilstaan te midde van die geraas en die besig-wees. Dit vra regtig nie baie nie, net ‘n paar sekondes van oplet en nuuskierigheid; die ander realiteit staan dalk ‘n kort entjie van jou af weg. 

 

תגובות


Recent Posts
bottom of page