top of page

Wat privaat moet bly, en wat nie

Oorspronklik 28 Mei 2021 gepubliseer


Ons almal ken die gevoel wanneer jy sommer net weet die nommer wat jou bel wil nie weet hoe dit met jou gaan nie! Daarom het die meeste van ons toepassings wat ons voor die tyd waarsku. Ons e-posse is ook nie privaat nie; ek ontvang gereeld e-posse van ‘n bloemis, en dit is net hulle wat sal weet waar hul my inligting gekry het. Natuurlik het ons elkeen daardie vriend wat ons nommers uitgee aan ‘n Platinum Life agent!

Dit is juis hoekom die POPI wet in werking gestel word: sodat wat privaat is, privaat kan bly.


Daar is wel sekere dinge wat gerus níé privaat hoef te wees nie, wat ons soms vir onsself hou. Een so ‘n voorbeeld is die woorde wat ons vir of oor ander sê.

Een van die voorregte wat ons ontvang het, is om nuuskierig te kan wees oor mense en die gawes en mooi dinge wat hul na die tafel toe bring. Dink net hoe kragtig sou dit wees as ons van elke mens wat ons ken, ‘n gawe-databasis kon hê! ‘n Denkbeeldige databasis met inspirerende stories van elke mens wat ons pad kruis. Die enigste manier hoe ons dit sal regkry, is wanneer ons werklik begin belangstel en nuuskierig raak oor die mense rondom ons. Hierdie inligting oor ander, moet ons nie skaam wees om te deel nie! So bou ons mekaar in liefde op, en hoe meer ons die mooi wat God in ons geplant het, deel met ander, hoe meer sal ons mekaar begin waardeer. Een inspirerende verhaal skenk dikwels weer geboorte aan ‘n nuwe droom in ‘n ander mens se hart.


Wanneer die Bybel sê dat ons die waarheid in liefde moet praat, het ek altyd die afleiding gemaak dat dit daaroor gaan dat ons soms ongemaklike dinge oor ander moet aanspreek. Ek het eers onlangs besef hoe eng ek in my verstaan was van hierdie woorde. Om die waarheid in liefde te praat, beteken ook dat ons elkeen die keuse kan maak om ander op te bou met ons woorde, om waardering uit te spreek vir die gawe wat ons in iemand raaksien, om mense se waarde te bevestig met ons monde.


Gaan dink mooi oor wat liefs privaat moet bly, maar ook dit wat jy dalk al vir so lank met jou mond gesnoer het, wat eintlik ‘n seën vir iemand sal wees.

Comments


Recent Posts
bottom of page