top of page

Wat kinders my leer oor tevredenheid (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 2 Augustus 2024 gepubliseer


Daar is ‘n spesifieke tyd in kinders se lewe wat ‘n mens eintlik die heeltyd met ‘n notaboekie moet rondloop om alles neer te skryf wat ons kinders sê! Ons driejarige het ‘n afstandbeheer kar by iemand gekry wat jare lank in hulle kas gelê het. Ons kon nooit die kar aan die ry kry nie, maar Ruach het ‘n spesiale verhouding met die afstandbeheer! Hy noem dit sy ‘walkie talkie’ en neem dit amper elke dag saam skool toe. Sy gunsteling ding om te sê op sy ‘walkie talkie’ is: “4-5-8-9… I’m coming back!”.

Ruach het ook al verskeie kere oor sy ma se kar gesê: “Mamma, ons ry ‘n grooooooooot kar!” (Dit is regtig nie so ‘n groot kar nie!).

Nou die dag kon die kinders ‘n gunsteling speelding saambring na sy skooltjie toe. Dit was vir my baie interessant om op te let wat die kinders gekies het om saam te vat: niemand het ‘n indrukwekkende speelding gebring nie! Ruach se speelding wat hy gekies het, was ‘n rooi bus wat in die palm van sy hand pas.

Dit het my laat dink aan ons geneigdheid om ons te meet aan ander, en ook daaraan verwant, die feit dat ons dikwels nie lank tevrede bly met iets nie.



Ek het die afgelope week die uitslae gevolg van ons swemmers wat by die Olimpiese Spele geswem het, en besef dat ek op ‘n manier jammer gevoel het vir Pieter Coetzé, wat in die 100- en 200 meter rugslag in die finaal geswem het en, as ek reg onthou, in albei items sewende gekom het. Dit het my verder laat dink: is ‘n sewende plek, sewende vinnigste swemmer in sy item in die wêreld, nie rede om op en af te spring vir hom nie?

‘n Goeie toets vir ons eie harte, of ons tevrede is met wie ons is en wat ons het, is om te vra: Kan ek werklik gelukkig wees vir iemand anders se sukses of geluk, veral die persone met wie ek myself sou kon of wou vergelyk?

Die beste manier om onsself met ander te vergelyk, is om inspirasie by ander te soek. As ons dit kan regkry om in die afwesigheid van ‘n persoon, iets te sê wat ons van hulle waardeer voordat ons sê of daar iets is wat ons irriteer of nié waardeer nie, is ons op die regte pad.

Om ‘n lewe van tevredenheid te leef beteken nié dat ons ambisieloos of gemiddeld moet wees nie. Paulus skryf aan die gelowiges in Korinte dié belangrike woorde (hfst 11:1): “…julle moet doen wat ek doen, net soos ek doen wat Christus doen.” In effek sê hy: “Kom ons almal volg die voorbeeld van Christus.” Jesus sal nooit in die geskiedenis onthou word as ‘n gemiddelde figuur nie; Hy het alles gegee. As ons Hom wil navolg, dan gee ons alles en ons doen wat ons doen met uitnemendheid en dankbaarheid.

Kom ons gaan soek vir verskonings om deur ander geïnspireer te word!

Comments


Recent Posts
bottom of page