top of page

Wat kan ons by die herlewing in Asbury leer? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 17 Februarie 2023 gepubliseer


Wat as ‘n eenvoudige diens in die kapel begin het Maandagoggend by Asbury univeristeitskampus in Kentucky, Amerika het verander in ‘n geleentheid vir aanbidding, gebed en genesing wat, terwyl ek skryf Vrydagoggend, steeds voortgaan.

Daar was niks anders of snaaks aan die opening vir die week nie. Niemand het iets buitengewoon beplan nie; geen spesiale spreker of kunstenaar nie, geen rookmasjien of ligte nie, nie eens ‘n boodskap wat regtig iets met herlewing te doen het nie. Iemand het ‘n boodskap gebring, die koor het ‘n lied of twee gesing, maar die koor wou nie ophou sing nie en die mense wou nie ophou om te aanbid nie.

Ek kon vanoggend iets oor ouerskap geskryf het, dalk selfs leierskap of die bestuur van ons lewens. Maar sonder die inspraak en aanraking van die Gees in ons lewens, is die res maar eintlik net self-help gedagtes. Saam met die Gees, kry dit betekenis en besondere krag.

As verlangse waarnemer van iets buitengewoon wat op ‘n doodgewone dag op ‘n doodgewone universiteitskampus plaasgevind het, is ek herinner aan ‘n paar dinge wat hopelik ook vir jou van betekenis sal wees.

- Gebed is die anker.

Ons moet nooit die fout maak om te dink dat gebed nie ‘n verskil maak nie. Of jy in die bediening is, karre regmaak of elke dag met mense werk, gebed is die spil waarom al ons pogings draai.

Bid daarom ook voortdurend vir die redding van, en verhouding wat jou kind of kleinkind het met die Here. Ons kan soms so behep raak met ons kinders se toekoms en of hulle dit gaan maak of sukses sal bereik, dat die heel belangrikste ding agtergelaat word. Sonder ‘n lewende verhouding met die Here is jou kind verlore. Moet dit nooit vergeet nie.

- Moenie moeg word om die goeie te doen nie.

Ek kan in my klompie jare in die bediening van so baie geleenthede vertel waar ek al gewonder het of my werk of bydrae werklikwaar enige betekenisvolle verskil maak. Hoekom al die ure insit, waarom al die geld spandeer en moeite doen vir iets wat soms op die oog af geen verskil maak nie?

Ek onthou baie goed hoe ek en my vriend en destydse kollega een keer met ‘n bussie vol studente na ‘n dorp, honderde kilometers ver, gereis het. Ons het die verwagting gehad om mense aan te raak en toe ons by die kerk opdaag, was daar drie mense. Ons kon aanvanklik net lag, maar het voortgegaan met die program wat ons met ons span wou aanbied. Sulke dae is nie maklik nie.

Of dit nou in jou rol as ouer, as werker of as bedienaar is, moenie toelaat dat die dae waar momentum en groei skynbaar geheel en al ontbreek, aanneem dat dit waarmee jy besig is uitgedien is en nie ‘n verskil maak nie. Wanneer ons dit die minste verwag, gebeur die groei, of sien ons dat die Here iets kom doen wat ek nooit uit myself kon laat gebeur nie. Terloops, die dae wat ek die meeste positiewe terugvoer oor ‘n boodskap gekry het, is dikwels dae waar ek vir die Here moes sê: “Ek is aan die einde van myself. Ek het niks om te gee nie en ek het U nodig.”

- Hê altyd die verwagting dat die Gees van God aan die werk is.

In ons verhoudings, by die werksplek, ons gesinne, in ons eie hart en gemoed, is dit die Gees van die Here in ons wat die verskil maak. Die Gees werk op maniere wat ons nie eens van weet nie, die Gees hou ons motiewe suiwer en plant in ons harte die behoefte om meer van die Here te ervaar in ons lewens.

Ons kan nie sonder Hom nie. Dit is slegs deur die Gees dat ons herlewing sal beleef, in verhoudings, as gesinne, as groepe en gemeenskappe.

Kom ons laat die Gees toe om die werk te doen wat net die Gees kan doen. Bly oop daarvoor, hê die verwagting dat die Gees vandag iets kosbaar sal kom doen wat lewens kan verander.

コメント


Recent Posts
bottom of page