top of page

Wat is vandag jou werklikheid (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 23 Junie 2023 gepubliseer

Sê nou maar net jou lewe verander ingrypend?

In een dag lees ek van twee bekende mense wat fisies nog veronderstel is om in die fleur van hulle lewens te wees, maar hulle wêreld het in ‘n kort tyd drasties anders begin lyk. Die oud-joernalis Jaco Nel, oftewel Angola Badprop, en die RSG-omroeper Christelle Webb-Joubert is albei 46 jaar oud. Jaco is in 2020 met tempofrontale demensie gediagnoseer en Christelle is langer as ‘n dekade gelede met ‘n seldsame genetiese oogsiekte gediagnoseer, waar haar sig stukkie vir stukkie begin verswak het.

Om met woorde te woeker was Jaco se lewe, maar dit is juis sy vermoë om met kreatiewe taal stories te skryf, wat hom nie meer beskore is nie. Christelle doen steeds werk vir RSG, maar daar is verskeie dinge wat sy nié meer kan doen nie, en die werk wat sy wel steeds kan doen, word met baie moeite gedoen. Christelle het ook ‘n elfjarige seuntjie wat breinskade opgedoen het en nie kan praat nie.

Ek plaas albei artikels aan die einde van die plasing; veral Christelle se verhaal is ‘n bemoedigende een waar sy ook gesels oor die kritiese rol wat haar verhouding met die Here speel in haar elke-dag lewe met sy uitdagings.



Daar is geen waarborge in hierdie lewe nie. Vandag lyk my werklikheid só, vandag is ek die geleentheid gegun om te kan skryf en te praat en te sien, ek het vandag die geleentheid om my kinders vas te hou. Ek kan vandag ‘n draai gaan draf as ek wil, ek kan vandag ‘n salaris verdien en iets vir iemand beteken. Môre mag die prentjie dalk anders lyk.

Iemand sê nou die dag tydens ‘n gesprek dat vandag ‘n goeie tyd is om van my oorvloed bymekaar te maak en te koester, want wie weet of die droogte seisoen om die draai is? Vandag se mooi, vandag se spesiaal, vandag se herinneringe is padkos vir môre se uitdagings en beproewings.

Een ding wat ander se verliese of uitdagings ons nie moet aandoen nie, is dat dit ons nie moet paranoïes maak nie. Hoe wonderlik is dit nie om van iemand soos Christelle Webb-Joubert se storie te lees en geïnspireer te word nie? Ek hoef haar nie te bejammer nie, want sy doen dit self nie. Inteendeel: haar lewe is haar getuienis en alhoewel dit ‘n uitdagende lewe is, is dit ‘n lewe waarvoor sy dankbaar is.

Dit laat my dink aan die bekende woorde in 2 Korintiërs 4:7: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

Ons lewens is onvoorspelbaar en breekbaar, maar die krag wat binne ons is, is goddelik. Dit is juis aan hierdie krag wat ons altyd kan vashou.

As jy vandag met jou kinders of kleinkinders kan speel, as jy kan rondry en waarneem, as jy jou werk kan doen en die goeie van die lewe kan geniet, doen dit met oorgawe en dankbaarheid. Die wêreld het ‘n behoefte aan mense wat met intensie leef.

Comments


Recent Posts
bottom of page