top of page

Wat is jou huis se naam? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 3 Februarie 2023 gepubliseer


As jou huis vir iets bekend moes staan, wat sou jy graag wou hê moet dit wees?

Ek onthou die keer wat ek en Danél, my vrou, vir die eerste keer saam by my ouerhuis gaan kuier het baie goed! Dit was nog in ons studentejare wat ons die tog van Pretoria na Nelspruit onderneem het. By die hek van my ouers se plot is ‘n bordjie wat lees: “Rus en vrede”. Ek het met haar geskerts en gewaarsku dat sy nie té veel rus en vrede hier moet verwag nie!

Onlangs het ek na Jannie Putter geluister, en hy het genoem dat een van sy kernwaardes is dat sy huis altyd ‘n plek van liefde en pret sal wees.

Wat is vir jou belangrik? Wat moet die kernwaardes wees wat tussen die mure van jou huis heers?

Veral in die nadraai van die Covid-19 pandemie het baie kinders se angsvlakke die hoogte ingeskiet. Die persoon wat sê dat dit eenvoudig is om in vandag se tyd en milieu kinders groot te maak en op te voed, het duidelik nie self kinders nie!

Ek het ‘n baie insiggewende artikel gelees wat in die Lig tydskrif verskyn het (skakel aangeheg aan die einde van hierdie artikel), wat ‘n paar sinvolle punte uitlig om op te fokus wanneer jy graag jou angstige kind wil help.

Iets wat ek ook self in die kringe waar ek beweeg en bedien raaksien, is die prestasiedruk waaronder kinders verkeer. Of dit nou die ouers is, die skool of dikwels druk wat kinders op hulself plaas, daar is by baie kinders ‘n ongesonde spanning wat met prestasie gepaardgaan. Waar kom dié druk vandaan? Waarom sukkel baie kinders om te werk en sport te beoefen, sonder dat die druk hulle oorweldig? Daar kan sekerlik baie redes wees, maar ek dink tog dat ons ons kinders kan help deur die volgende toe te pas: om prioriteite te bepaal, om hulle te help om sinvol te rus en om hulle te help met ‘n emosionele woordeskat. Een van die beste plekke om dit te beoefen is rondom die goeie ou etenstafel!

- Bepaal wat is prioriteit. Kom ons help ons kinders om te onderskei wat hulle graag wil doen, en hoe ‘n realistiese, gebalanseerde program lyk. Ons kinders hoef nie aan alles deel te neem nie! Ons kan ook ons kinders leer dat ons sommige aktiwiteite kan doen net omdat dit vir ons lekker is, en dat daar soms geen druk hoef te wees om te presteer nie.

- Rus. Het jy en jou gesin ‘n ritme van rus? Is daar ‘n dag of tydperk in julle gesin se skedule ingewerk wat bekend staan as ‘n rusdag of rustyd? Of word rusdae ook maar ingesluk deur aktiwiteite, buitemuurse sport en, deesdae al hoe meer gewild, verjaardag partytjies? As ons nie vir ons kinders gaan voorleef hoe om te rus nie, hoe op aarde gaan hulle dit leer?

- Leer ‘n emosionele woordeskat aan. Hier is die etenstafel weer ons goeie vriend! Sit op ‘n gereelde basis tyd uiteen waar almal saam om die tafel sit en gesels. Vra uit oor jou kinders se dag en help hulle om ‘n emosionele woordeskat aan te leer deur die tipe vrae wat jy vra en wat jy self deel, soos bv. “Ek kan dink dat dit vir jou sleg was toe jy jou boek by die huis vergeet het. Hoe het jy gevoel toe juffrou daarvoor vra en jy besef die boek is nie in jou tas nie?” of “Ek moes ‘n paar belangrike besluite by die werk neem vandag by die werk en dit het my sommer baie deurmekaar en moeg laat voel. Maar nou is dit lekker om saam met julle te kan kuier en te ontspan.”

‘n Belangrike beginsel wat hier versterk kan word, is dat ons nie ons emosies of gemoedstoestand hoef weg te wens of te vermy nie. Ons erken dit vir wat dit is, en ons kry ‘n manier om dit te verwerk of te beheer.

Laastens is dié ding wat ons dalk die meeste op moet fokus, dat ons identiteit nié bepaal word deur wat ons doen en hoe goed ons dit doen nie, maar deur wie ons is. Jou kind of geliefde moet hoor dat hulle geliefd is in jou oë en dat jy hulle geniet. Hulle moet hoor dat hulle vir jou kosbaar is en dat niks dit ooit sal verander nie. Herinner hulle dat hulle op ‘n kosbare manier geskep is en altyd veilig is in die hand van hulle Skepper en liefdevolle Hemelse Vader.

Mag daar tussen die mure van jou huis baie liefde, pret en bemoediging wees!

Comments


Recent Posts
bottom of page