top of page

Wat beleggings my oor die lewe geleer het... (Anru Liebenberg)

As jy ‘n behoefte het aan finansiële advies, is ek beslis nie die persoon om na te luister nie! Tog wil ek graag my ervaring met jou deel rondom die lewenslesse wat beleggings my tot dusver geleer het.

Ek het ‘n paar jaar gelede besluit om min of meer een wegneem-koffie op te offer en die geld te gebruik om dit self te belê. Dit het vinnig ‘n lekker stokperdjie geword en ek skerts gereeld met Danèl, my vrou, deur byvoorbeeld te sê: ons het vandag onsself ryk gemaak deur hierdie sap te koop, want ons besit R 20 se aandele in hierdie maatskappy!

Hier is ‘n paar algemene leierskaps-, ouerskaps- en menswees-lesse wat ek geleer het uit my beleggings stokperdjie:

-          “Most people overestimate what they can do in one year and underestimate what they can do in ten years.”

 

Hierdie aanhaling word aan Bill Gates toegeskryf, maar dit is moontlik dat iemand anders dit voor hom gesê of neergepen het.

Ons kan maklik ná ‘n paar maande of ‘n jaar moedeloos raak omdat ons voel dat daar nie noemenswaardige vrug op ons werk was nie. Soms voel dit vir ons dat ons gereeld saadjies plant in ons besigheid, ons gesin, ons bediening, maar die plantjies wil net nie lekker groei nie.

 

Doen hierdie oefening vir ‘n oomblik saam met my: dink aan die afgelope dekade, waar jy konsekwent en getrou opgedaag het as ouer, werker, leier, bedienaar, eggenoot. Wat het in tien jaar se tyd gebeur? Sien jy dat daar in ‘n dekade se tyd tog betekenisvolle groei en verandering was?

 

Dalk is jou kind in die ‘terrible two’s’ fase, of dalk die ‘terrible teens’ seisoen. Terloops, ‘terrible’ is ‘n ‘terrible’ manier om enige fase of seisoen te etiketteer! Tog is daar seisoene waar ons meer moedeloos voel en waar daar ook soms wroeging saam met die vreugde is. In so ‘n seisoen (hoe so ‘n seisoen ook al vir jou mag lyk), onthou: in ‘n dekade se tyd gaan hierdie seisoen maar ‘n klein deeltjie uitmaak van ‘n groter, pragtige prentjie.   

 

Daarom: hou aan met die goeie werk wat jy doen, en onthou dat langtermyn konsekwentheid groei sal bewerkstellig.

 



-          Moenie jou ore uitleen aan elke Jan Rap en sy maat nie.

 

Daar is baie slimkoppe op X (voorheen Twitter) en YouTube wat die nuutste groot aandeel of beleggingsinstrument aan elkeen probeer verkoop. Daar is ook ‘n groot klomp ontnugterde mense wat uit persoonlike ervaring vir jou sal vertel dat ‘n mens maar sulke advies met ‘n knippie sout moet vat.

 

Kies die mense na wie jy luister met wysheid. As jy na elkeen luister wat bereid is om advies te gee oor jou huwelik, leierskap, ouerskap of ander terreine van jou lewe, gaan jy later dalk so deurmekaar wees soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartie-boks.

 

Die persoon wat die graagste raad uitdeel, is nie altyd die persoon met die beste, deurleefde wysheid nie. Kies ‘n paar manne of vroue wat ‘n sitplek aan jou tafel verdien, en maak seker dat jy gereeld hulle toelaat om ‘n inspraak in jou lewe te hê.

 

-          Een swak belegging maak jou nie ‘n swak belegger nie

Enige belegger wat sy sout werd is sal vir jou sê dat dit nie gaan daaroor om nooit ‘n fout te maak  nie, maar om seker te maak dat jy meer goeie besluite neem as die foute wat jy maak.

Baie mense het astronomiese bedrae geld verloor toe Steinhoff se ware kleure begin wys het. Baie van daardie selfde mense het genadiglik ook ‘n klompie ander goeie beleggings gemaak en die effek van daardie een swak belegging (wat meeste mense nie sien kom het nie) kon hulle absorbeer.

As ons wil groei in hierdie lewe en sukses wil behaal, moet ons gemaklik raak daarmee om te waag. Gaan ons foute maak? Absoluut. Gaan die foute ons breek? Waarskynlik nie. As ons met genoeg wysheid leef om seker te maak dat die speelveld vir foute begrens is, gaan daardie foute ons waarskynlik help om iets vir iemand anders te kan beteken.

-          In elke faset van ons lewe is daar altyd geleentheid vir ‘n omkeerplan

Geen verlies of fout in ons lewe, hoe swak of verwoestend ook al, mag ons ooit laat glo dat ons doppie finaal geklink is nie.

Of dit nou jou huwelik, finansies, jou rol by die werk, jou rol as ouer of wat ook al is: daardie verlies of skade wat aangerig is, mag jou nooit as mens definieer nie.

As jou bankbalans maand na maand nie wil klop nie, beteken dit nie jy is ‘n mislukking nie. Net so beteken ‘n vet bankbalans nie dat jy dit gemaak het as mens nie.

As al wat jy raaksien, die gebroke stukkies van jou lewe is, moet nie vir een oomblik glo dat daar nie ‘n Geneser is wat bereid is om die stukkies saam met jou op te tel en weer aanmekaar te heg nie.

 

Sterkte met die beleggings wat jy tans maak! Mag jy verras wees deur die groei op daardie langtermyn beleggings.   

Bình luận


Recent Posts
bottom of page