top of page

Wanneer my kind angstig raak (Cora Breytenbach)

Oorspronklik 20 Mei 2022 gepubliseer


Alle kinders ervaar ’n mate van angs soos hulle deur die stadiums van kindwees beweeg.

Dit is normaal dat kinders bang is vir monsters in donker hoekies, ’n nuwe skool en dokters of vreemdelinge, maar sommige kinders ervaar vrese so oormatig dat dit ingryping noodsaak.

Angsversteurings kom voor wanneer dit moeilik word vir ’n mens om die natuurlike reaksie op ’n stresvolle situasie “af te skakel”, selfs nadat die rede vir die angs verwyder is. Angsversteurings kan daartoe lei dat kinders irrasionele vrees of paniekerigheid ervaar of selfs ’n fobie – ’n intense vrees vir iets, ’n persoon of situasie – ontwikkel.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angs-groep (Sadag) sukkel tussen 8% en 11% van kinders en tieners met angs.

Kinders kan die gedrag van ’n angstige ouer naboots. As ’n kind se ouers byvoorbeeld nooit mense na hul huis oornooi nie of moeilik met vreemdelinge gesels, kan dit die kind angstig maak in sosiale ¬situasies. Kinders wat hoogs sensitief is en dit moeilik vind om by klein veranderings in die huis of hul daaglikse roetine aan te pas, gereeld simptome van angstigheid toon. Dalk het jou kind iets ervaar wat hom angstig maak. Om te sien hoe iemand byna verdrink kan ’n vrees vir water by ’n kind laat ontwikkel. Dood in die familie of ’n egskeiding kan algemene oorsake van angsversteurings by kinders is.

Wees geduldig

Angs kan geweldig ontwrigtend vir kinders wees. Hulle ervaar hulle nie net ’n aanhoudende gevoel van wanhoop en swartgalligheid nie, maar kan fisieke simptome soos hoofpyn, maagpyn of moegheid ook ontwikkel. Angstige kinders moet dikwels vooraf weet wat hul dag gaan behels sodat hulle minder gespanne voel. Dit verg baie geduld van hul ouers.

Dié ouers moet hulself regmaak om daagliks ’n magdom vrae te beantwoord soos “Wanneer gaan Ma my by die skool kom oplaai?”, “Hoe lank gaan dit vat?”, “Gaan dit seer wees?”

Hoe kan ouers hul kinders help om ’n angsversteuring te bestuur?

- Onthou, jou kind se angsversteuring is nie ’n gevolg van swak ouerskap nie. Dit plaas wel druk op jul gesinslewe en ondersteunende familielede en vriende kan dinge vergemaklik.

- Gee aandag aan jou kind se gevoelens en moenie dit wat hy voel as niks of onbenullig afmaak nie.

- Bly kalm wanneer jou kind angstig raak in ’n stresvolle situasie.

- Moenie foute of ’n gebrek aan vordering straf nie.

- Wees buigsaam en probeer om ’n normale roetine te handhaaf.

- Erken en gee lof vir klein prestasies of verbeterings.

- Beplan vir veranderings of oorgangstadiums. As jou kind dit moeilik vind om skool toe te gaan, maak tyd in die oggend om hom voor te berei.

Dis belangrik dat ouers sal verstaan dat hul kind se angs oorweldigend en realisties vir hom voel, al is dit nie altyd ’n “rasionele” vrees nie.

Neem só beheer

Ouers moet probeer om hul kinders te help om kalm te bly in situasies wat moontlik stresvol kan wees. Jou kind moet nuwe strategieë aanleer om angs te kan hanteer. Om vir ’n angstige kind te sê hy moet “ontspan” of “ophou om so belaglik te wees” is nie ’n effektiewe manier om angs te hanteer nie. Dit kan help om jou kind diep te laat asemhaal of van 20 tot nul te tel.Kry ook jou kind om oor sy angstigheid te praat en laat hom toe om self die vlak van sy angs te bepaal deur ’n punt tussen een en tien toe te ken. As die angs vererger, besoek ’n algemene praktisyn wat jou kind na ’n sielkundige kan verwys. Die meeste terapeute gebruik ’n kombinasie van kognitiewe gedrag- en speelterapie om kinders te help om hul versteuring te verstaan en op ’n daaglikse grondslag te bestuur.

*Cora Breytenbach is 'n opvoedkundige sielkundige.

Comments


Recent Posts
bottom of page