top of page

Wanneer Kersfees nie so geseënd voel nie... (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 22 Desember 2023 gepubliseer


Kerstyd roep vir ons elkeen unieke herinneringe op: familie saamtrek, see en roomys, wildtuin hitte, waatlemoen… ek dink graag terug aan al die Kersfees kuiers saam met my ouma en oupa en ander familie op hulle plaas in die Noord-Kaap. My oupa sou altyd Oukersaand sê: hoe gouer jy gaan slaap, hoe gouer is dit Kersfees! Ek hoop jy het ook ‘n arsenaal mooi herinneringe om op te roep!

Tog voel Kerstyd nie vir almal altyd so geseënd nie. Ek het gister ‘n video gekyk van ‘n man wat vir almal wat by ‘n Amerikaanse ‘diner’ werk, $500 gegee het as ‘n gebaar van vrygewigheid. Daarna het hy vir elkeen gevra: “Wat gaan jy met die geld doen?”. Die meerderheid het geantwoord: “Ek gaan skuld afbetaal.” Die laaste ding waaraan hierdie mense dink is om ‘n heerlike Kersete voor te berei; die meeste van hulle gaan in elk geval op Kersdag werk.

Miskien weet jy hoe dit voel om op Kersdag só te wens dat ‘n spesiale familielid of vriend net nog een Kersfees saam met jou kon wees. Dalk is die Kersdag wat voorlê vir jou so ‘n dag, en as jy eerlik moet wees, wens jy dat die dag tog net kan kom en gaan.



Dalk onthou jy ongelukkig Kersfees vir die trauma wat jy ervaar het gedurende hierdie tyd, want Kerstyd is ook vir baie families die tyd wanneer swere oopgekrap word. Vir party mense is hulle grootste wens vir Kersfees dat hulle pa of ander familielid tog net hierdie een keer nie hom/haarself sal vergryp aan drank en ‘n spektakel van hulleself sal maak nie.

Dit is die realiteit vir baie mense. Ook vir elke mens wat al so gevoel het, of hierdie jaar so voel, het Kersfees ‘n spesiale boodskap.

Die Seun van die Mens was vir alle praktiese doeleindes ‘n vreemdeling in ons wêreld. Hy was dikwels nie welkom nie en selfs sy dood was ‘n teken van die feit dat Hy vir baie ‘n onwelkome gas in hierdie wêreld was.

Die enigste plek waar hy gebore kon word was in ‘n stal, tussen die reuke van diere, in ‘n krip wat nie vir ‘n baba bedoel was nie. En dan verskyn die engele aan die skaapwagters, die ‘outsiders’ van die samelewing, om die goeie nuus met hulle te deel dat die Verlosser gebore is, en dat hulle die voorreg het om een van die eerste mense te wees om Hom te kan ontmoet. Vir die ‘outsiders’ is daar ‘n Koning gebore wat vir die res van sy aardse lewe ook ‘n ‘outsider’ sou wees.

Die Seun van die Mens het gekom vir ontnugterdes, seergemaaktes, sukkelaars, mense wie se harte baie seer is, brandarmes en stinkrykes… op watter plek jy jou ook al bevind hierdie Kersfees. Christus wil graag saam met jou wees.

Mag ons elkeen hierdie Kersfees ‘n plek aan die tafel van ons hart, of aan ons fisiese kerstafel, oophou vir iemand vir wie hierdie Kersfees nie noodwendig so geseënd voel nie.

Jy is geseënd, liewe vriend. Die Messias het, vir jou ook, gekom.

Comentarios


Recent Posts
bottom of page