top of page

Wanneer dinge net nie vir jou wil gebeur nie (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 20 November 2020 gepubliseer.


Ek gesels gereeld met mense oor hul lewens en die feit dat dinge nie altyd uitwerk soos wat hul verwag of gehoop het nie.

Ons kry nie altyd die werk nie, die verhouding realiseer nie, die verhouding wil net nie herstel nie, my gemoed wil (sonder ‘n verklaarbare rede) net nie lig nie, ek ervaar ‘n verlies of trauma of ek ervaar nie genesing en groei na ‘n verlies nie.

Hierdie ervarings is waar van die meeste van ons in enige jaar, maar dit is amper asof die afgelope jaar met sy ontwrigtings en onsekerhede ‘n megafoon geplaas het op die uitdagings wat baie van ons beleef.

Ons kan boeke skryf oor hierdie onderwerp. Hier is ‘n paar kort roetemerkers wat ons kan help om deur so ‘n tyd te navigeer.

1. Die fout lê nie noodwendig by jou nie.

Ons is geneig om ons uitdagings persoonlik aan te trek, met ander woorde, die rede vir die probleem moet tog sekerlik as gevolg van my wees. Is ek nie goed genoeg nie, is dit my fout, is dit omdat ek nie sterk genoeg is om hierdie ding te bowe te kom nie? So ‘n ingesteldheid versterk net die gedagte dat daar iets fout met jou is, en dit gaan jou nie help om te floreer nie. Probeer om ‘n gesonde perspektief te kry! Soms kan iemand anders my help om uit ‘n buitestandersperspektief meer objektief te kyk na iets.

2. Die fout lê dikwels ook by jou!

Soms moet ons eerlik na onsself kan kyk, en ons aandeel in iets raaksien en erken. Dit is so maklik om ‘n uitdaging voor iemand anders se deur te lê; die slagoffer-mentaliteit. Ek werk nie lekker nie, want my kollegas is selfsugtig. My verhouding is saai, want my maat gee nie meer om nie. Soms voel ons lewens soos een groot gemors, omdat dit die bril is waarmee ons daarna kyk. Dit is bitter moeilik om doodeerlik met onsself te wees. In ‘n moeilike situasie is dit bevrydend om te kan vra: “Wat is my aandeel in hierdie probleem en hoe kan ek dit aanspreek?” Sodoende neem jy pro-aktief verantwoordelikheid van jou lewe.

3. Sien die seisoen raak

Almal van ons beleef bepaalde seisoene in ons lewens: seisoene van groei, seisoene van vreugde, seisoene van seer, seisoene waar ons moet aanpas en seisoene waar ons genoop word om te ontwikkel. As ek die seisoen kan identifiseer en dit in die groter prentjie van my lewe plaas, gaan dit my moed gee vir môre. Dit wat ek nou voel of deurmaak, is nie die somtotaal van my lewe nie. Ek het al beter gevoel, dit het al beter gegaan en ek vertrou dat hierdie storm weer in die toekoms sal plek maak vir sonskyn.

4. Sit die Here agter my seer en swaarkry?

Hierdie ingesteldheid kan ons baie skade berokken. Dit is menslik om te probeer sin maak van ons omstandighede, maar wanneer ons gevolgtrekking is dat die Here ons straf vir iets wat ons gedoen het of nagelaat het om te doen, gaan dit ons nie help nie. Die Here is nie soos ‘n poppemeester wat ons toutjies trek om ons ‘n les te leer nie. So ‘n ingesteldheid verklap iets van ons begrip van wie die Here is en die rol wat Hy wil speel in ons lewens. Die wêreld is gebroke, mense leef dikwels vanuit hul selfsug en ons is dikwels aan die ontvangkant daarvan. Soms gebeur goeie dinge met slegte mense en slegte dinge met goeie mense. Die belangrikste waarheid om te onthou: ek kan altyd op die Here se hier-wees reken; Hy is altyd by my.

5. Wie is die hoofkarakter van jou lewenstorie?

Een van die mees bevrydende ontdekkings wat ons kan maak, is dat ons nie in die middel van ons lewenstorie staan nie. Jy sien, as ek in die middel staan, dan gaan ek alles vanuit daardie posisie interpreteer. As God die hoofkarakter van ons lewenstorie is, dan probeer ons onderskei hoe ons elkeen inpas in sy groot verhaal. Dan word die wêreld se gebeure nie rondom my geskryf nie. Ek kan jou waarborg: die storie maak meer sin, en is baie meer opwindend met God as hoofkarakter!



Comments


Recent Posts
bottom of page