top of page

Wanneer die wiele rol (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 18 Julie gepubliseer


Wat onthou jy van die eerste kar wat jy gehad het? In my jare op Universiteit was ek dikwels verstom oor die tipe karre wat party studente gery het, en ek het dikwels gewonder: “Hoe op dees aarde gaan hierdie ou eendag ‘n soortgelyke kar met sy eie eerste salaris kan bekostig?” Ek weet nie of dit met jou ook so was nie, maar my twee studentemotors (die eerste een was gesteel) het albei name gehad. Dit is asof ‘n eenvoudiger kar op ‘n manier dieper in ‘n mens se hart kruip!

Ek het nou die dag ‘n artikel raakgelees op Netwerk 24, wat nuwe navorsing deel oor hoe kinders in ons land by die skool uitkom. 66% van kinders stap skool toe, en slegs 9% maak van private vervoer gebruik. Met ander woorde: minder as 9% van ouers het die voorreg om hulle kinders skool toe te vat en by die skool te kom oplaai.

Dit het my laat wonder oor die tweederdes kinders wat skool toe stap. Hoe lyk die pad van hulle huis na die skool? By watter plekke moet hulle verbystap, saam met watter kinders van watter ouderdomme moet hulle stap? Ek is seker dat dit elke pa of ma wat nié hulle kinders self by die skool kan afsien nie, se gebed is dat hulle kinders veilig moet wees.



Ek het ook probeer uitvind hoeveel mense in ons land ‘n kar besit. Alhoewel dit nie ‘n eenvoudige som is om te maak nie, blyk dit dat min of meer 1-2 uit 10 volwassenes in ontwikkelende lande ‘n kar besit. As jou gesin (soos myne) twee karre besit, is jy uiteraard baie bevoorreg!

Dalk spandeer jy na jou sin te veel tyd op ‘n dag in ‘n voertuig. Miskien het jy al gewens dat jy jou kar vir ‘n slag kon inruil vir iets ‘n bietjie meer gemaklik. Mag jy vandag onthou: jou kar is ‘n groot geskenk!

As jy een van die minder as 9% van ouers is wat jou kinders by die skool kan aflaai: koester daardie tyd! Speel lekker musiek, maak grappies, los konflik op, gesels met mekaar… daardie halfuur of wat in die kar kan ‘n sleutelrol speel in jou strategie om ‘n mooi verhouding met jou kinders te bou!

Die alleen-tyd in ons karre is ook tyd wat ons kan uitkoop! Dit is tyd om te dink oor ons dag, tyd om te bid, tyd om te reflekteer, tyd om iemand te bel met wie jy lankal moes kontak maak! Ek geniet dit om podcasts te luister terwyl ek bestuur. ‘n Paar van my gunstelinge is: Carey Nieuwhof Leadership podcast, Work Life with Adam Grant, Gospel in Life (Tim Keller), The Happiness Lab with Dr. Laurie Santos, History of South Africa with Des Latham, Honest Money with Warren Ingram, Mind Shift (Erwin & Aaron McManus), Revisionist History (Malcolm Gladwell), Dream Big with Bob Goff, Moeilikheid is ons besigheid (Jaco Strydom), On Being with Krista Tippett en natuurlik ook Leef-Pod (op YouTube) wat ekself aanbied! Deel asseblief indien jy ‘n paar gunsteling podcasts het!

Mag die tyd wat jy saam met ander of alleen in jou kar spandeer vir jou heilige tyd wees!

Comments


Recent Posts
bottom of page