top of page

Wanneer die nes leeg raak... (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 28 Januarie 2021 gepubliseer


Die matriekuitslae is uiteindelik bekendgemaak! Ná die vreugdestof gaan lê het, lê daar nou vir baie ouers ‘n nuwe seisoen voor van ‘n leë kamer, of miskien ‘n dolleë nes. Of jy nou die ouer van ‘n voornemende student, of die student self is, dit is ‘n splinternuwe tyd met baie onsekerheid en ‘n warboel van emosies.

Ek is seker dat feitlik alle ouers van voornemende studente wonder: “Het ons genoeg gedoen om ons kinders voor te berei vir die lewe wat vir hul voorlê?” “Het ons genoeg tyd gemaak om as gesin weg te gaan, of kwaliteit tyd saam te spandeer?” “Wat as my kind bepaalde keuses maak, daar waar ek nie kan sien nie, wat haar leed kan aandoen, of ander se lewens in gevaar stel?”

Ek en my vrou, Danél het al baie gewonder oor die verloop van ons lewens, veral toe ons tieners en studente was. Daar is so baie situasies waarin ons onsself bevind het, wat vir ons soveel erger kon uitgedraai het. Die nadraai van ons, of ander, se verkeerde besluite het genadiglik nie ‘n verwoestende effek gehad nie. Ja, ons het ook soos mal mense deelgeneem aan ons eie weergawe van ‘The Amazing Race’, waar ons met studentekarretjies deur die strate van Hatfield gejaag het vir die kosbaarste prys: eer!

Die besorgdheid wat ons as ouers maar altyd met ons saamdra, kry beslis ‘n nuwe dimensie wanneer ons kinders nie meer onder ons eie dak slaap nie. Maar dit bied ook weer vir ons die geleentheid om ‘n ander dimensie te betree in ons verbintenis met die Here. Dit is vir my betekenisvol dat wanneer ons kies om ons kinders te doop of in te seën, ons ook daarmee sê dat ons in ‘n sin ons kinders weer teruggee aan die Een wat hul in die eerste plek vir ons gegee het. Die Here is daar waar my oë nie altyd kan sien nie, daar waar ek nie altyd kan beskerm nie, en ook daar diep in die kamers van my kind se hart.

As jou kinders nog klein is (soos myne): leef elke dag met die bewustheid dat die klein dingetjies wat ons vandag saam met ons kinders doen, sement en stene is vir die huisie van vertroue wat ons saam bou. En wanneer ons kinders nie naby is nie, of deur ‘n uitdagende tyd worstel, breek die tyd aan vir daardie vertrouenshuisie om staande te bly.

Ek onthou die dag wat ek in Huis Mopanie, by die Universiteit van Pretoria, ingetrek het baie goed. Ek onthou dat my ouers vir my ‘n splinternuwe ketel, lampie, beddegoed, besem en verestoffer (wat ongelukkig nie te veel gebruik is nie) gekoop het, en ons het saam nes geskrop in my nuwe kamer. Die ding wat ek vandag nog die hoogste ag, was nie die goeters wat hul gekoop het nie, maar die feit dat hul vir my gesê het dat hul trots is op my en lief is vir my. Geen aardse geskenk kan dié woorde oortref nie.

As jou kind op pad is: sterkte! As jou kind nog onder jou dak slaap: maak die beste gebruik van elke geleentheid.

コメント


Recent Posts
bottom of page