top of page

Waarin wil jy uitnemend wees? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 17 November 2023 gepubliseer


Ons het onlangs vir ‘n klompie dae die lang pad see toe aangedurf! Wel, die see wat ons besoek het was eintlik nie só ver nie, maar met ‘n tweejarige seuntjie en ‘n drie maande oue dogtertjie was dit heeltemal ver genoeg gewees, dankie!

Ons het vooraf op die internet rondgesnuffel en afgekom op ‘n huisie op ‘n plaas, ‘n ent buite die dorp en besluit om daar te bly. Na ‘n rit gepaardgaande met aanhoudende reën, het ons uiteindelik ons bestemming bereik terwyl dit steeds reën. Ons gasvrou het ‘n sambreel gebring sodat ons kon afpak en nesskrop.

Ek en Danél het begin gesels oor die manier hoe ons ontvang is. Dit maak darem ‘n verskil as iemand ingestel is op detail sonder dat dit van hulle verwag word. Ons het lekker filterkoffie gekry, vars beskuit, melk in die yskas, gebottelde water, ‘n kombersie in die bababed, piesangs wat hulle self op die plaas kweek… ons het beslis nie genoeg betaal vir ons verblyf om al die bederf te regverdig nie. Dit was vir ons duidelik dat iemand vooraf mooi gedink het oor die dinge wat iemand sou laat tuis voel en wat hulle verblyf sou vergemaklik.

Toe ons die Sondagoggend ry was dit vir ons geen verrassing toe die man en vrou ook op pad kerk toe is nie. Hulle het niks tydens ons verblyf gesê oor geloof nie, maar die manier hoe ons op hulle plaas ingenooi is, het bevestig wat ons sterk vermoed het.




Sal dit nie lekker wees as die wêreld ons eien as gelowiges as gevolg van die detail en styl waarmee ons leef nie? Soms is Christene baie meer uitgesproke oor dit wat ons meen verkeerd met die wêreld is, as wat ons fokus op dit waarvóór ons is. Ons is vír omgee, belangstel, deernis, vrygewigheid, gasvryheid, jammer-sê.

Skole regoor die land het onlangs prysuitdelings gehou. Kinders het erkenning ontvang vir harde werk en talent. Dit is lekker vir enige kind om beloon te word vir iets waarvoor hulle hard gewerk het, en dit is ook belangrik en reg so.

Verbeel jouself wel net vir ‘n oomblik saam met my hoe ons wêreld sou lyk as dit elke ouer se hoogste prioriteit is om soveel tyd en energie as moontlik te spandeer om ‘n kind groot te maak wat bekend is vir die detail en styl waarmee hulle elke ander persoon met wie hulle in kontak kom, hanteer? Sê nou maar net dit was hoe ons uitnemendheid gemeet het?

Hoor weer hierdie woorde van Jesus in Johannes 13:34-45 (Die Boodskap):

“Julle moet mekaar liefhê. Dit verwag Ek van jule. Kyk hoe lief het Ek julle. Laat dit vir julle die voorbeeld wees van hoe lief julle mekaar moet hê. Hierdie liefde van julle moet as’t ware hard en duidelik ‘praat’. Mense moet daarna kyk en sê: ‘Kyk net, daar’s ‘n volgeling van Jesus.’”

Mag ek en jy presteer in liefde, mag ons uitnemend wees in die detail waarmee ons na ander kyk en hoe ons hulle laat voel.

**Die foto van die dwergganse is tydens ons besoek aan die see geneem, in Cape Vidal.

Comments


Recent Posts
bottom of page