top of page

Waar lê jy op die 'World Happiness' lys?

Oorspronklik 19 April 2024 gepubliseer


Die ‘World Happiness Report’ vir 2024 is onlangs gepubliseer. Dit is ‘n omvattende stuk navorsing waar hulle, na aanleiding van verskeie faktore, ‘n lys saamstel van hoe gelukkig burgers van verskillende lande is. Een van die navorsers wat aan die lys meegewerk het, John Helliwell, het ‘n baie insiggewende gesprek op ‘n podgooi gehad waarna ek geluister het. Een van hulle frustrasies is dat almal altyd die lys wil sien, maar nie noodwendig fokus op die kriteria of verdere bevindings van die navorsing nie.

Ek deel ‘n paar interessante bevindings vanuit die verslag, maar ook uit die gesprek wat ek geluister het.

Kom ek begin met die vraag waaroor jy seker wonder! Finland is nommer een op die lys, gevolg deur ‘n klompie skandinawiese lande. Dit was vir my interessant dat Amerika slegs nommer 23 op die lys is, en Suid-Afrika is nommer 83. Suid-Afrika is een van die lande waar mense, in vergelyking met ander Afrikalande, die gelukkigste is (al is ons no. 83 op die lys!).



Daar is ses primêre veranderlikes wat hoofsaaklik gemeet word om die lys saam te stel: Bruto Binnelandse Produk per kapita, sosiale (maatskaplike) ondersteuning, gesonde lewensverwagting, vryheid (met ander woorde, ons word nie deur onnodige wette en regulasies aan bande gelê nie), vrygewigheid en korrupsie.

Wat in die afdeling rondom adolessente insiggewend was vir my, is dat daar, pre-Covid-19, positiewe tendense was by tieners van Sub-Sahara Afrikalande, terwyl daar ‘n afwaartse tendens was by tieners van Noord-Amerika en Wes-Europa. Post-Covid, is die positiewe tendens weer by tieners in Oos-Asiese lande.

‘n Ander hartseer algemene tendens is dat kinders, soos wat hulle groei tot tieners en later na jong volwassenes toe, al hoe ongelukkiger raak.

Ek wil graag hierdie belangrike sin uit die navorsing met jou deel: “The best predictor for adult life satisfaction is subjective well-being and emotional health during childhood, and the next major influence on emotional health, after family, is school both in childhood and adolescence.”

Wat hoor ek in hierdie sin? Dit is ons werk as volwassenes om ons kinders te help om so lank as moontlik kinders te wees, deur omgewings te skep waar hulle kan floreer, veilig is en kan groei. Hoe beter ons dit regkry, hoe beter is die kans dat hulle gelukkige volwassenes sal wees. Ek hoor ook: die primêre kweekhuis vir geluk is en bly ons huise, terwyl skole ook ‘n krities belangrike rol speel.

Dit is daarom juis so belangrik dat ons mooi sal besin oor die huise, gemeenskappe en skole wat ons skep. Is ons huise, skole en gemeenskappe so ingerig dat ons kinders, kinders kan wees? Of druk ons kinders vroeg ryp? Is ons huis ‘n verlengstuk van die skool, waar ons dalk te veel praat oor presteer en te min speel en saam lag?

In die groter prentjie (as ons aanneem dat die meeste van ons min of meer 80 jaar gaan leef), is die 18 jaar wat ons kinders in ons huise woon, eintlik maar baie kort. Ons het die gulde geleentheid om hierdie tydperk so sinvol en kosbaar as moontlik te maak. Dit het die potensiaal om ons kinders gelukkiger mense te maak.

As gelowige mense moet ons ook onthou dat Jesus anders oor geluk dink, soms radikaal anders. In Matteus 5, wanneer Jesus oor die geseëndes of gelukkiges gesels sê Hy onder andere die volgende (in Die Boodskap vertaling): “Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ‘n klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is. Wanneer dit gebeur, moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde! Want dan wag daar ‘n baie groot beloning op julle in die hemel.”. As volgelinge van Jesus is dit heeltemal moontlik om te woon in nommer 83 op die lys van gelukkigste lande in die wêreld, maar ‘n diep betekenisvolle en gelukkige lewe te lei, nie omdat alles altyd mooi loop nie, maar omdat ek weet dat ek en my gesin is waar ons behoort te wees.

Daar is aan John Helliwell gevra waarom ‘n land soos Amerika, met wie dit eintlik in sommige opsigte baie goed gaan, hulleself sou sien as nie so gelukkig nie. Sy antwoord was: “negativity bias” as gevolg van mense se toegang tot media wat dikwels verdelend is en fokus op verskeie negatiewe dinge wat in daardie land en in die wêreld aan die gang is.

Al voel dit soms so, word geen media in ons keel afgedruk nie. Ons kan altyd kies in watter mate ons daaraan blootgestel word.

Dit laat my dink aan die mooi lied van Elvis Blue, met die titel: Mooi.

“Hoe raak jy aan die slaap?

Hoe begin jou dag?

Open jy jou oë met ′n traan

Of met 'n lag?

Kyk jy om jou rond

Sien jy dan die son?

Of soek jy agter alles

Na die skadu op die grond?

Leef jy vir geluk

Of sterf jy van verdriet?

Is daar vir jou ′n keuse

Of het jy geen keuse nie?

Dit maak nie regtig saak

Of dit waarheid is of nie

Dis hoe jy dit sien.

Hoe mooi kan jou lewe lyk

Dis maar hoe jy kyk

Dis maar wat jy droom

Hoe mooi is jou werklikheid

Jy is net so ryk

So ryk as wat jy voel.

Weet jy wat jy het?

Is die sirkel rond?

Sien jy wat daar staan

Of bly jou oë op die grond?

Kry jy wat jy wil

Of meer as wat jy vra

Is jy tevrede met die minste

Of is die meeste nie genoeg?

Raak jy verwondered deur sneeu,

Deur die druis van die wind?

Geniet jy nog die voëls

En die glimlag van 'n kind?

Bewerk jy jou geluk

Want binne in jouself

Is die einde en begin.

Hoe mooi kan jou lewe lyk

Dis maar hoe jy kyk

Dis maar wat jy droom

Hoe mooi is jou werklikheid

Jy is net so ryk

So ryk as wat jy voel.”

Mag jy en almal vir wie jy lief is, gelukkig wees. Maar meer as dit: mag julle kies om as geseëndes te leef.

Comments


Recent Posts
bottom of page