top of page

Veerkragtigheid in 'n wêreld van gerief (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 11 November 2022 gepubliseer


Elke ouer wil die beste vir hulle kinders hê. Daarom beskerm ons hulle, ons rus hulle toe met verskillende vaardighede (soos swemlesse, dansklasse, ekstraklas, gholflesse), en ons doen wat dit ook al vat van ons as ouers om vir hulle die beste moontlike toekoms te verseker. Sover dit van ons afhang, doen ons enigiets om hulle te laat floreer.

Maar kan dit wees dat ons soms ons kinders in die proses té veel beskerm? Jy het sekerlik al gehoor dat ouers soms as grassnyer-ouers beskryf word: voordat enige teenkanting, teleurstelling of konflik ons kinders bereik, maak ons die pad vir hulle gelyk, soos ‘n grassnyer.

Ek het die afgelope week of wat ‘n paar podcasts geluister en ‘n uitstekende artikel gelees deur Roedolf Botha, wat juis probeer sê: as ons onsself en ons kinders ‘n groot guns wil bewys, moet ons hulle help om veerkragtig te word.

Ons leef al hoe meer in ‘n wêreld waar ons die lewe vir onsself so gemaklik en gerieflik as moontlik probeer maak. Ons inkopies en aandetes word deur ‘n man op ‘n motorfietsie by ons voordeur afgelaai. Geen ongenooide gas daag by my voordeur op nie, om by my uit te kom moet die ongenooide gas eers by die sekuriteitswag en die sekerheidsisteem verbykom. As die krag afgaan, skop my ander sisteem in, sodat ons verder kan kyk na die duisende stories tot ons beskikking, op Netflix, Amazon, YouTube, DSTv… Die probleem met ons lewenstyl is: wanneer die lewe kompleks en moeilik raak, sak ons uit. Ons het nie altyd die vermoë om ‘n uitdagende lewe die stryd aan te sê nie.

Ons kinders is besig en werk hard. As dit nie skool is nie, is dit aktiwiteite en ekstraklasse. Daarom hoef my kind nie nog te help om skottelgoed te was en hulle eie beddens op te maak nie. Daar is mos in elk geval ‘n Lina of Martha wat dit kan doen. En as Lina of Martha net ‘n dag of twee per week inkom, dan doen ons maar die takies wanneer ons kinders slaap. So sien ons kinders dikwels nie eers raak hoe ons alledaagse huistake doen nie, hulle dink dit is maar hoe dinge werk.

Ons kinders word groot in ‘n wêreld waar skerms onvermydelik is. Ons het nie lus vir baklei na ‘n lang dag nie, so daarom laat ons tog maar die skerms toe; toegegee, vir té lank, dalk. Maar ons is moeg, ons is nie lus vir drama nie. En so is ons aandadig aan die aandagafleibare generasie wat van kindsbeen af geleer word om met ‘n afhanklikheid saam te leef.

Ouerskap is so ‘n bevredigende reis! Maar dit is níé so eenvoudig of maklik nie. Dalk moet ons soek na ‘n gebalanseerde benadering. As ouers móét ons genade met onsself hê… oorgenoeg daarvan! Ons is mense, ons maak foute, ons gee soms toe wanneer ons nie moet nie. Ons spring soms te vinnig op en “red” ons kinders. Sien dit raak, maar hê ook genade met jouself. Die ander kant van die wipplank is dat ons nugter moet wees oor wie ons as ouers is, wat ons as ouers doen of nie doen nie, en wat ons toelaat of nie toelaat nie.

‘n Paar praktiese dinge om te oorweeg:

- Vra soms die vraag: het ek nóú nodig om tussenbeide te tree? Is dit nodig om nóú my kind te “red”? Wat kan my kind leer as ek nou eerder die rol van afrigter aanneem, maar my kind die “speelwerk” laat doen? Byvoorbeeld: ‘n konflik tussen maatjies, ‘n verskil tussen jou kind en ‘n onderwyser of afrigter.

- Waarvoor moet ek vir my kind by tye begin nee sê? Hoe gaan dit my kind help om eerder ‘n “ja” van my kind vir nou te weerhou?

- Op watter manier dra my kind by tot die sisteem in ons huis? Hoe kan my kind betrek word om ook die werk te doen wat verseker dat ons huishouding goed funksioneer?

- Spandeer een maaltyd per dag saam om die tafel. Gesels, vra uit, deel met mekaar. Geen skerms word toegelaat nie, vir hierdie paar minute kyk ons almal mekaar in die oë.

Jakobus 1:2-4 verduidelik die wêreld met al sy uitdagings en ons rol daarin mooi: “2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Ons het die unieke geleentheid om ons kinders in hierdie proses van volharding te midde van beproewings te begelei en in liefde op te bou.

Moenie moed opgee nie! Sterkte vir die reis.

Comentarios


Recent Posts
bottom of page