top of page

Tyd en energie (Pieter Visser)

Oorspronklik 9 September 2022 gepubliseer


My vrou en ek is beide ekstroverte, ons eersgeborene het ‘n dubbel dosis gekry en ons sal maar sien hoe dinge lyk met die nuweling in die gesin. Ons rojale naweekplanne het in die verlede egter tot gevolg gehad dat ons een kuier (soms in Johannesburg) moes kortknip om “betyds” vir die partytjie in Pretoria te wees. Ons het baie verdeel gevoel as gevolg van al die gejaag van die een ding na die volgende. Ons pogings om ander tevrede te stel het eerder ‘n “afskeep” oorgedra as wat vriende gevoel het dat ons tyd gemaak het om hulle te sien.

Nou toegegee, baie van hierdie verskriklike kuier-rondhop was voor ons eersteling se geboorte en het ons - soos ons energie van min slaap minder geword het - meer selektief geraak met wat ons bywoon. Daardie beginsel het egter na ander fasette van ons lewe oorgespoel waar ons ook sommer sou “ja” sê vir iets nog voordat ons mooi gedink het oor die koste daarvan betrokke.

Een van ons beter besluite was dat: net omdat daar tyd op ons skedule is, beteken nie dat ons beskikbaar is nie. Dit is egter eers later wat ek die impak van Rob Bell se wysheid in sy eerste Podcast besef het: “om ‘ja’ te sê vir iets beteken jy sê ‘nee’ vir iets anders”.

Dalk moes jy, soos ek, tydens die pandemie van vóór af leer hoe jy jou roeping moet uitleef: wat jy nuut moet doen en wat jy moet ophou doen. Wat ek besef het, is dat dit nie net gaan oor die tyd wat ek tot my beskikking het nie, maar ook die energie wat ek vir sekere take beskikbaar het. Dit is óók in daardie tyd wat ek die gawe ontvang het om my limiete te bereik - iets wat ek natuurlik nie in die oomblik as ‘n gawe ervaar het nie! Vóór dit sou ek, wanneer iets nie uitgewerk het nie, vir myself gesê het ek het nie hard genoeg probeer nie. Ek moet harder werk; “as ek net harder gaan werk gaan hierdie projek of idee slaag”.

Dit was nie dít nie, ek het vir myself gejok: sommige dinge moes dalk nie gebeur nie, sommige dinge is dalk vir ander bedoel - wat dalk beter vaardigheid of passie vir ‘n saak/ding het. Sekere dinge, wat baie keer soos waardige sake klink, gaan (indien dit nie in my werksverdeling is om dít te doen nie) die tyd en energie wegneem van my prioriteite en die dinge waar ek eerder my gawes behoort uit te leef.

Ek moes leer “nee” sê en besef dat ander beter geskik kan wees vir sekere dinge as ekself.

Die vryheid wat ek wél beleef het is dat die dinge waarvoor ek dan “ja” sê vir my meer energie gee - wanneer dit die dinge is wat met my waardes belyn is. Ek gee myself dus die vryheid om “nee” te sê wanneer ek weet dat daar ander is wat meer geskik is, jy kan ook.

In ons samelewing waarin ons baie keer ons waarde meet aan dit wat ons doen of hoe vol ons kalenders is, of op hoeveel kommittees ons dien, is dit werklik moeilik om “nee” te sê. Dit kan ‘n goeie oefening wees om jouself te gaan afvra waardeur of deur wie (Wie?) jy jou waarde laat bepaal.

Dit gaan ook dalk net verrassend wonderlik wees om te sien hoe opgewonde die gawes en passie van ander mens kan maak, oor jy hulle die geleentheid gun om hulle “ding” te doen.

Comments


Recent Posts
bottom of page