top of page

Twee skerp potlode vir 'n nuwe jaar (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 6 Januarie 2023 gepubliseer


Die oggendstond het goud in die mond: 2023 lê soos ‘n vroeë sonsopkoms voor ons en ons het die voorreg om ons oë oop te maak om dit eerstehands te ervaar!

Elke nuwe jaar bied aan ons geleenthede; geleenthede om sekere dinge anders aan te pak, om voort te gaan met sekere ritmes wat ‘n impak gemaak het, om ja te sê om betrokke te raak en om nee te sê waar nodig.

Psalm 90:12 het vandag my aandag getrek: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom.” (’53 vertaling) The Message parafrase klink so: “Oh! Teach us to live well! Teach us to live wisely and well!”

Hierdie vers is goeie raad vir enige dag, maar aan die begin van ‘n nuwe jaar vang dit my oog ‘n bietjie meer. Dit is my gebed vir 2023, dat ek die dae sal tel, dat ek nie een dag as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Verder is dit my gebed dat ek sal lééf, elke dag met wysheid.

Paulus bid in Filippense 1 dat ons liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal onderskei waarop dit werklik aankom. In vandag se tyd en konteks is twee temas steeds baie relevant, inteendeel, dit voel asof dit al hoe meer krities raak om te veg daarvoor: om te dink oor ons motief vir wie ons is en wat ons doen, en om voortdurend te onderskei wat die belangrikste is, en die meerderheid van ons tyd en energie daaraan te spandeer.

Om ons eie motiewe raak te sien is beslis nie maklik nie! Ons motiewe is soos ons blindekol wanneer ons bestuur; as ek nie doelbewus daarvoor uitkyk nie, gaan ek nie eens weet dat daar ‘n motief was wat my gedrag en my besluite bepaal het nie! Die dinge waarmee ek besig is, die besluite wat ek neem, die manier hoe ek my kinders grootmaak kan op die oog af goed en reg lyk, maar my motief bepaal watter dinamika en betekenis daaruit gaan vloei. Dit is juis waarmee die nuwe jaar ons help: ons het nou maar net ‘n manier om aan die begin van die jaar vrae aan onsself te stel oor wie ons is en wat ons wil doen. Gebruik dit om na te dink oor die diepste rede agter jou aksies en besluite.

Verder help onderskeidingsvermoë ons om te bepaal wat prioriteit behoort te wees. Dit is eintlik so eenvoudig, maar nie maklik om toe te pas in ons lewens nie! As die massas ‘n gejaagde lewe in ‘n soeke na meer en beter nastreef, waar die belangrikste verhoudings in ons lewe afgeskeep word, beteken dit nie ons moet maar saam met die stroom swem nie. Deur die dinge waarop dit werklik aankom te onderskei, help ons om te kies vir ‘n aktiwiteit, verhouding, projek of lewenstyl en of dit werklik die moeite werd is.

Tel jou dae. Lééf. Leef met wysheid in 2023, en mag jou lewe ‘n tasbare verskil in die mense rondom jou se lewens maak!

Hozzászólások


Recent Posts
bottom of page