top of page

Trots, CS Lewis en die verkiesing (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 12 April 2024 gepubliseer

My gunsteling seisoen het aangebreek… verkiesingseisoen!

Dit is eintlik amuserend om te hoor hoe politieke partye vertel dat hulle dinge sommer gou sal regruk as hulle aan bewind sou kom. Ek hoop nie die politici wat sulke goedkoop beloftes maak doen dieselfde met hulle huweliksmaats nie!

Hier by ons is die regerende party se plakkate skreiend groot en oordadig en ‘n mens kan nie help om te wonder nie: hoeveel het hierdie plakkate gekos, wie was die diensverskaffer en hoe opgeblaas was die kostes van hierdie plakkate? En dit terwyl hulle eintlik bankrot is? ‘n Artikel in Daily Maverick het in November verlede jaar berig dat hulle nog R 100 miljoen geskuld het aan ‘n diensverskaffer van 2019 se plakkate. (https://www.dailymaverick.co.za/article/2023-11-24-anc-liable-for-over-r100-million-in-2019-elections-banners-fiasco-supreme-court-of-appeal-ruling/)



Hoe sou ‘n samelewing lyk waar alle politieke partye saam besluit om eerder die astronomiese bedrae geld wat gespandeer word aan plakkate, wat in alle waarskynlikheid bitter min mense gaan oortuig om anders te stem, en daardie geld saam aan te wend om ‘n verskil in gemeenskappe te maak en maatskaplike samehorigheid te kweek?

Dié aanhaling oor CS Lewis is vandag nog net so relevant: “A proud man is always looking down on things and people; and, of course, as long as you are looking down, you cannot see something that is above you.”

Dié beginsel geld eintlik vir ons almal (en beslis vir my ook).

Hoe sou ‘n wêreld lyk waar ons graag mekaar wil sien floreer, waar ek my ‘kompetisie’ eerder as my kollega sien? Hoe sou ‘n wêreld lyk waar ons werklik mekaar die beste gun, waar ander se sukses nie vir my soos ‘n bedreiging voel nie? As die mikpunt nie was om die beste te wees of om te wen of alles te hê wat my hart begeer nie, hoe anders sou ons lewens, ons samelewings dalk gelyk het? 

Jesus het sommer vinnig sy dissipels se praatjies oor wie die belangrikste is in die kiem gesmoor en hulle daaraan herinner dat dié wat nou so hard werk om bo uit te kom, in die hemel laaste sal wees. Jesus se hele missie was om te gee, te dien, op te offer.

Hoe sou ‘n wêreld lyk waar elkeen van ons elke dag begin met die vraag: “Hoe kan ek dien? Hoe kan ek waarde toevoeg? Hoe kan ek die genade wat ek ontvang het, vrygewig aangee?”

Mag ek en jy kies om elke dag die bal aan die rol te sit, weg van onnself en dit wat ons eie is, na ander rondom ons.

Dalk is dít waar die potensiaal vir verandering in ons gesinne en gemeenskappe lê.  

Comments


Recent Posts
bottom of page