top of page

Stop...dink...doen... (JZ de Jager)




Oorspronklik 22 Augustus 2022 gepubliseer

Ek dink baie van ons het ouers gehad wat ons probeer leer het om nie te hoë verwagtings te koester nie. Hierdie verwagtings kan oor enige iets wees. Dit kan gaan oor vriendskappe. Of dit kan gaan oor liefde. Of dit kan gaan oor geld en goed. Die een groot rede hoekom baie ouers hulle kinders leer om nie te hoë verwagtings te koester nie is omdat hulle weet hoe dit voel om teleurgestel te word want teleurstelling bring baie verskillende emosies en in baie gevalle ‘n groot stuk ontsteltenis.

Ons het onsself onlangs in ‘n situasie bevind waar ons ‘n verwagting gehad het dat ‘n spesifieke dag op ‘n sekere manier sou verloop en nog voordat die dag begin het, het ons besef dat daar nie in ons verwagtings voldoen gaan word nie. Die oomblik toe dit gebeur was dit soos ‘n ry dominoes wat omgestamp word – die een ding volg op die ander ding sonder dat mens dit kan keer. Eers is daar ‘n groot stuk teleurstelling en dan begin die ontsteltenis inskop. Ons reaksie op hierdie ontsteltenis kom ook in verskillende vorme. Ons kan soos kinders reageer. Ons kan soos ouers reageer of ons kan soos volwassenes reageer.

As mens dink aan kinders se reaksie op ‘n situasie wat nie is soos wat hulle dit wil hê nie dan gaan dit baie keer gepaard met ‘n geskop en geskree, ‘n baie irrasionele reaksie. Aan die anderkant kan ons reageer soos ‘n ouer. Hoe lyk ouers se reaksie wanneer ‘n kind so irrasioneel reageer? Daar word geraas en gedissiplineer. Amper iets van ‘n ondeurdagte beheer neem van die situasie.

Meeste van die tyd reageer mens op een van hierdie maniere, maar daar is ‘n ander manier van reageer – die volwasse manier. Maar hierdie manier van reageer kom nie so natuurlik soos wat ons graag sou wou gehad het nie. Baie keer reageer mens irrasioneel of ondeurdag. Dis in daardie oomblik wat daar ‘n liggie by jou moet opkom wat vir jou moet sê jy moet nou kies om anders te reageer.

Ons dogtertjie se juffrou het hulle ‘n baie belangrike les geleer wanneer dit kom by reaksie op ontsteltenis en ek wil dit gebruik as ‘n basis oor hoe ons onsself en ook die mense rondom ons kan help om ontsteltenisse beter te hanteer. Hierdie juffrou leer die kinders drie woorde: STOP – DINK – DOEN

STOP

Probeer om nie dadelik te reageer wanneer iets jou ontstel het of wanneer jy teleurgesteld is nie. My ma het altyd vir ons gesê dat ons in sulke situasies eers tot by 10 moet tel voordat ons reageer. Want wanneer ek nie dadelik reageer nie dan gee dit my kans om te dink.

DINK

Hierdie is seker die moeilikste deel! In die dink proses moet ek dink oor wat gebeur het. Ek moet dink oor my eie emosies. En ek moet dink hoe ek gaan reageer.

‘n Belangrike mentor in ons lewens het ons eendag geleer dat enige iemand enige tyd ‘n haas uit die hoed uit kan haal. Wat hy daarmee bedoel het was dat ons nie beheer het oor ander mense se doen en late nie. Ons kan nie beheer wat iemand gaan sê of gaan doen nie. Al waaroor ons beheer het is ons reaksie op die haas wat hulle uit die hoed uit haal.

‘n Ander ding wat ons geleer het is dat wanneer jy in ‘n situasie is wat jou ontstel of waar jy teleurgestel word dat jy ‘n tree moet weggee van die situasie af en na die situasie moet kyk asof jy en die situasie in ‘n gesprek is. Verbeel jou dat jy en die situasie op ‘n stoel sit en na mekaar kyk. Dink aan wat jy sien en hoe jy voel. Verbeel jou dan dat jy die stoel waarop die situasie sit na links draai of na regs draai of heeltemal omdraai. Wat sien jy dan of hoe voel jy dan? Die idee agter die stoele en die draai daarvan is om ‘n ander perspektief op die situasie probeer kry. In die proses evalueer jy jou eie emosies en dit gaan jou kans om op die volwasse manier te reageer.

DOEN

Hierdie doen glo ek het twee funksies. Aan die eenkant gaan dit daaroor dat jy uit die DINK tyd besef het wat die volwasse manier is van reageer en om dit dan so te doen. Aan die anderkant glo ek dat mens in die DOEN ook leer. Ons leer om die proses van STOP DINK DOEN vinniger te laat inskop wanneer ons gekonfronteer word met teleurstellings en ontsteltenisse.

Paulus skryf in sy brief aan die gemeente in Efese ‘n baie belangrike ding wat ons baie kan help om op ‘n volwasse manier te reageer in alle situasies. Hy skryf dat daar soms dinge gaan gebeur wat jou vrede gaan versteur en wanneer dit gebeur moet jy op die regte manier reageer. Hoor wat sê hy moet ons doen in Efesiërs 4:6-7 “Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.” (Die Boodskap)

Kom ons help mekaar om te STOP en nie net te reageer binne ‘n situasie nie. Mag ons dan die geleentheid kry om te DINK oor wat ons voel en beleef. DOEN dan die regte ding en reageer op ‘n volwasse manier.

コメント


Recent Posts
bottom of page