top of page

Skep vandag 'n herinnering (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 19 Mei 2023 gepubliseer

Ek het onlangs ‘n podcast geluister waar daar vir die gas gevra is of sy iets wil deel oor haar ervaring as kind in haar ouerhuis. Aanvanklik het ek gedink die podcast het ophou speel, maar ek het gou besef dat sy te aangedaan was om vir ‘n ruk verder te gesels.

Sy het verduidelik dat sy, noudat sy self ‘n ouer is, ‘n diep dankbaarheid het vir wie haar ouers is, maar ook vir die belewenis wat sy as kind in haar huis kon gehad het: ‘n gevoel van veiligheid, meelewing en liefde.

Ek het al verskeie kere by mense gehoor dat daar sekere dinge was wat hulle as kind (veral in hul tienerjare) oor hulle ouers nie kon verstaan nie. Die insig en verheldering het eers heelwat later gekom, toe hulle self ouers geword het. Wat vroeërjare verwarring of frustrasie veroorsaak het, het mettertyd verander na begrip en waardering.

Ek het hierdie week ook met ‘n man gesels wat sy mooi herinneringe oor sy oorlede pa gedeel het. Sy pa sou gereeld op sy bed kom lê en sommer net nuuskierig wees en uitvra oor alles en nog wat. As tiener was dit nie altyd vir hom so ‘n gemaklike storie nie, maar sy pa het vasgebyt en elke keer weer teruggekom. Sy pa is nie meer hier nie, maar hy het die kosbare herinneringe om te koester.

Ek kan sommer aan ‘n klomp inspirerende stories dink van ouers wat die ekstra myl gestap het, ouers wat ruimtes van liefde en aanvaarding geskep het, ouers wat hulle kinders se inherente waarde bevestig het en padlangs “memories” gemaak het saam met hulle kinders. Hierdie ouers se stories gaan nie noodwendig die Huisgenoot haal nie, maar dit is nodig dat ons mekaar aan hierdie stories herinner. Sulke stories gryp my aan, en help my om ook so ‘n Pa vir my eie kinders te wíl wees.




Hoe skryf ons ook betekenisvolle stories?

- Waardeer mekaar se uniekheid en leef met diep respek teenoor jou gesinslede.

- Skep veilige ruimtes met grense. Jou kind voel veilig as daar reëls en roetine is; moenie bang wees dat hulle nie van jou gaan hou nie, dit is nie jou rol as ouer nie.

- Wees nuuskierig oor jou kinders. Hou aan leer by hulle, vra uit oor wat vir hulle lekker is. Voordat iets jou irriteer en jy dit as sleg wil afmaak, probeer eers belangstel en inklim in hulle wêreld.

- Gee aan jou gesin die geskenk van jou tyd, en koop die tyd uit. Moenie dat sinnelose dinge (of objekte, soos skerms) julle familietyd steel nie.

- Wees en bly lief vir jou man of vrou; wees intensioneel in julle groei na mekaar toe. Dit is een van die grootste geskenke wat ons aan ons kinders kan gee.

- Wees eg. Almal maak foute; wees eerlik oor joune en maak ‘n gewoonte daarvan om jammer te sê wanneer dit nodig is.

 Of ons getroud, enkellopend, ‘n Oupa of Ouma of iets tussenin is; elkeen van ons het die voorreg om mense om ons te hê saam met, en vir wie ons ‘n herinnering kan skep. Watter geleentheid is daar vir jou vandag?

Commenti


Recent Posts
bottom of page