top of page

Skep asem, dit bepaal jou lewe (Danél Liebenberg)




Oorspronklik 17 Maart 2023 gepubliseer


As ‘n maatskaplike werker in deeltydse privaat praktyk, kruis ek gereeld paaie met kinders, tieners en ouers wat somtyds net na hul asem snak. Dit is so maklik om iewers ‘n sin van wie jy is te verloor met die druk en spanning wat in ons alledaagse lewe ingesluit word. Doen ek genoeg? Doen ek te veel? Is ek goed genoeg? Maak ek dit?

Indien jy kan vereenselwig met wat ek hier bo beskryf het, nooi ek jou uit om na hierdie paar praktiese wenke te kyk wat jou weer kan ondersteun om ‘n gevoel van koers en rigting in jou lewe in te bring:

- Identifiseer die emosionele spasie waarin jy jouself bevind. Voel jy dankbaar, kwaad, bly, oorweldig of iets anders? Wat veroorsaak hierdie emosie? Is daar iets wat jy daarrondom kan doen?

- Haal diep asem en doen liggaamstrekke – dit kalmeer jou sentrale senuweestelsel en skep vir jou brein die geleentheid om uit te vars en nuut na jou situasie te kyk.

- Fokus jou energie op dinge binne jou beheer - jou gedagtes, aksies, woorde en

besluite. Hierdie is die enigste dinge waarop jy eintlik ‘n direkte invloed kan hê.

- Skep geleentheid vir jouself om weer na jou lewe in balans te kyk – jou psigiese,

emosionele, geestelike, finansiële en fisiese gesondheid is alles van belang. Hoe kan

jy prakties weer ‘n sin van balans in hierdie sfere kry?

- Skep geleentheid om al jou sintuie in te span deur ‘n eenvoudige en alledaagse

aktiwiteit met bewustheid te geniet. Drink jou koffie met ‘n bewustheid van hoe dit

lyk, ruik en proe. Geniet die oomblik!

Onthou dat jy nie alleen is nie. Neem die tyd om met ‘n geliefde of vriend(in) te gesels oor waar jy jouself bevind. Indien jy dit nodig vind om met ‘n professionele persoon te gesels wat as buitestaander saam met jou na jou situasie kan kyk, neem die brawe besluit. Jy is dit werd!

*Artikel oorspronklik in die Laevelder gepubliseer

Comments


Recent Posts
bottom of page