top of page

Sien jy jou goeie werk nog raak? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 4 Maart 2022 gepubliseer

Ek geniet dit nogal om te hoor wat party leiers oor produktiwiteit sê en skryf, maar ek kan ook lekker daaroor giggel! Want my lewe en die lewe wat hulle kan kies is myle van mekaar verwyder. Sommige “guru’s” lewe in ‘n wêreld waar hulle kies om net sekere e-posse of boodskappe te antwoord, hulle het die gerieflikheid om net dinge te doen wat vir hul energie gee, hulle het ‘n assistent of "intern" om elke hoek en draai wat alles doen wat hul tyd steel, en die kersie op die koek: hulle sê doodeenvoudig nee vir ‘n groot klomp gesprekke of vergaderings. Die meeste van ons het nie die “voorreg” om in so ‘n bubble te leef nie.

Dit is die eerste keer in ‘n hele paar jaar wat mense sommer vroeg in die jaar voel of hulle kan doen met ‘n breuk van die huidige tempo. Dit is ‘n vreemde gevoel: aan die een kant wil ons sê dat ons dankbaar is dat ons en ons kinders weer vir ‘n slag geleenthede kry om as spanne te kan "connect", dat daar geleenthede is om sekere dinge te kan beleef wat ons nie die afgelope paar jaar kon doen nie. Tog is die teendeel van die munt dat baie mense voel: hierdie pas en werkswyse is nie volhoubaar nie. Ons hardloop ‘n marathon, maar teen ‘n naellope pas!

Ek het onlangs ‘n leier van ‘n organisasie hoor gesels oor ‘n baie interessante perspektief. Sy het genoem dat daar ook iets betekenisvol is aan die feit dat ons nie net ons kos by ons voordeure laat aflaai en verskeie take in ons lewens uitkontrakteer nie. Daar is ook iets sinvol, selfs geestelik, aan die feit dat ek so nou en dan my eie bed opmaak, sélf my (of my gesin se) kos maak, ‘n kosblik pak en my eie kar was (iets wat ek nooit doen nie!). Want jy is nie net ‘n persoon wat bruikbaar is vir die organisasie waar jy werk nie. Jou waarde word nie net aan jou titel of posisie gemeet nie. Ironies genoeg, is dit die dinge waarvoor ons die minste tyd het, en dan voel ons skuldig daaroor.

‘n Vers wat my bemoedig wanneer ek kan voel my lyf en my brein is moeg, is Galasiërs 6:9: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.”

‘n Paar vrae wat met hierdie woorde verband hou:

- Watter werk waarmee jy besig is, is goeie werk; werk wat betekenisvol is en waarde toevoeg? Herinner jouself dat die werk wat jou dalk nóú moeg maak, goed en waardevol is.

- Watter klein aanpassing(s) kan jy maak om die goeie werk wat jy doen, beter en slimmer te doen?

- Hoe balanseer jy die goeie werk wat jy vir jou organisasie doen, met die belangrike werk- en speeltyd in jou gesin? Dié twee loop altyd saam! As ek superproduktief is op een plek en té moeg is om my ander rol op te neem, dan is geen werk meer goeie werk nie.

- Voel jy skuldig as jy moeg is? Dis nie ‘n skande om uit te sak nie. Jou moeg-wees herinner jou om te werk aan jou wedstrydplan sodat jy meer betekenisvol op die langer termyn kan werk.

Dankie vir die goeie en betekenisvolle bydrae wat jy lewer! Dit maak ‘n verskil; onthou dit.

Comments


Recent Posts
bottom of page