top of page

Sawubona (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 21 April 2023 gepubliseer


Sawubona = Ek sien jou.

Is jy soos ek?

Ek sien nie altyd nie.

Of: ek sien, maar ek waardeer nie. Ek beoordeel eers, soek wat verkeerd is, soek ‘n rede hoekom dit wat hierdie persoon doen of sê nie my goedkeuring behoort weg te dra nie. Sjoe, ek hoop nie ek is alleen nie?!

Ek ken mense wat die kuns om ander raak te sien laat lyk soos tweede natuur. Hierdie mense hoef nie lank te dink om te sê wat hulle van iemand bewonder nie. Ek vermoed die resep om so ‘n mens te word, ‘n pad van intensie behels. Vir die meerderheid van ons gaan dit nooit sommer maar net spontaan begin gebeur nie.

As ouers word ons blindekolle seker die gouste ontbloot. Hoeveel keer het jy al ervaar dat ‘n ma of pa opstaan vir ‘n kind wat nié hulle eie is nie? Ons kry oorgenoeg te doen met ouers wat hulle kuite styf maak oor die (beweerde) verontregting van hulle eie kinders. Hulle sien dit wat hulle s’n is, maar wat van die res?

Hoe kan ons mekaar motiveer om ander raak te sien? Dalk kan ons begin deur met ander te gesels oor dit wat ons in ander raaksien. Miskien moet ons spandabelrig raak met die goeie wat ons raaksien, dit uitdeel asof dit nooit sal opraak nie, want ek glo nie dit sal nie!

As dit by ons eie kinders kom, is ‘n goeie plek om te begin deur vir hulle te wys dat ons hulle raaksien. Ons sien die inherente waarde raak waarmee hulle geskep is, ons sien raak wanneer hulle omgee en wanneer hulle diensbaar is.

Ons kan hulle ook uitnooi om nuuskierig te bly. Die oom of die tannie by wie ons verby ry; waar bly daardie persoon? Hoe kom hulle by die huis? Het hulle ‘n huis? Het daardie oom of tannie ‘n lekker warm kombers soos ek?

Die groep Kaleidoskoop het jare terug ‘n lied geskryf met die naam: Die Goeie. Hier is ‘n paar woorde uit die lied:

“Hou jou oë op die goeie

Hou jou oë op die mooi

En word getransformeer deur jou gedagtes te vernuwe

Handel in wat rein is

Bly kleef aan die mooi

En word getransformeer

Deur dit wat die waarheid jou leer.

Mag die vuur van hoop so onblusbaar in jou brandend bly

En die vlamme onbeheersd soos 'n veldbrand rondom jou versprei

Die donker nagte rondom jou verlig

En helder bly”

Ek hardloop elke dag die wedloop van die lewe, en padlangs is daar ondersteuners wat deur die jare die goeie in my raakgesien het. Hulle woorde van waardering help my om verder te hardloop. Hoekom op dees aarde sal ek nie dieselfde gun vir die res wat saam hardloop nie?

Comments


Recent Posts
bottom of page