top of page

Ouerskap 101 (JZ de Jager)

Oorspronklik 2 Junie 2023 gepubliseer


Wanneer mens met nuwe ouers gesels dan kom mens baie vinnig agter dat hulle soos baie ander ouers reg deur die wêreld voel. Hulle sal baie vinnig iets sê in die lyn dat ouerskap een van die moeilikste dinge is wat hulle al moes gedoen het.

Ek kan nie help om te wonder hoe die generasies voor ons hulle eie ouerskap-reis ervaar het nie. Ek wonder of dit vir hulle ook so ingewikkeld was met al die moets en moenies van daardie tyd. Want vandag moet kinders op so manier slaap en hulle mag nie daardie kos eet nie en hulle moet minder skermtyd hê. In my gedagtes dink ek het vorige generasies drie goed gedoen, hulle het kinders kos gegee, hulle het kinders klere gegee en seker gemaak kinders speel nie met gevaarlike goed nie.

Ek dink enige iemand wat my ken sal weet dat ons regtig erns maak met ons ouerskap-reis. Ons doen baie moeite om te groei so vêr as wat ons kan. Ons lees vêr en wyd en het waardevolle inligting by onder andere Kevin de Young gekry. Party van die goed wat ons lees probeer ons toepas en ander goed wat ons lees probeer ons vergeet. Daar is gelukkig niks in sement gegraveer nie. Daar ten minste drie dinge wat ons probeer onthou.



1. Trail by error. Dit het al male sonder tal gebeur dat ons ‘n sekere situasie in ons koppe uitgespeel het oor hoe die regte manier is om ‘n spesifieke situasie te hanteer en in ons koppe kry ons dit baie keer reg. Maar in die hitte van die oomblik vergeet mens dat jy geoefen het om geduldig te wees of om nie te oorreageer of om nie emosioneel te raak nie. Ek weet baie goed dat ons foute maak as ouers. Ons word ook soms daarop gewys as ons foute maak. Ek weet ook dat ons ouers foute gemaak het en dat hulle ouers foute gemaak het. Ons leer uit ons eie foute en ook uit ander se foute. Dit bring my dan by die tweede ding wat ons moet onthou.

2. Groei waar jy kan. Ons het dalk by ons ouers gesien watter foute hulle gemaak het, en ons kan probeer om nie daardie foute te maak nie. Maar ons gaan ander foute maak. Al wat belangrik is, is dat ons uit ons foute sal leer en dat ons sal groei. As mens en as ouers sal ek in sekere aspekte wil groei soos geduld, wysheid en konsekwentheid. Ek besef ek is baie afhanklik van die Here se genade op hierdie pad. Ek weet Hy is besig om aan my te werk. Ek is verantwoordelik om self te groei en ek (ons) is verantwoordelik om ons kinders groot te maak soos wat die Here wil hê ons moet. Maar daar is geen waarborge oor die uitkoms nie. Daar is sekere dinge wat ononderhandelbaar is en daar kan mens nie terugstaan nie. Maar dan is daar dinge wat mens maklik groter maak as wat dit moet wees. My vrou sê gereeld vir my hierdie woorde – choose your battles. Dit bring my dan by die derde ding wat ons moet onthou.

3. Ons kry tog sekere dinge reg. Dit is maklik vir ons om te sê wat die foute was wat ons ouers gemaak het, maar nie alles wat hulle gedoen het was verkeerd nie. Ons het groot geword en is vandag (meeste van die tyd) goed gebalanseerde volwassenes. Mens onthou dalk nie altyd die reëls wat jou ouers gehad het nie, maar mens onthou hoe hulle jou laat voel het. Dit is wat ons vir ons kinders ook wil hê. Ons wil hê dat ons kinders ook eendag vertel dat ons hulle kerk toe gevat het en van die Here geleer het. Ons wil hê hulle moet onthou dat ons vir hulle lief was en hulle aanvaar het. Ons wil hê hulle moet ons karakter onthou en nie die reëls wat ons gehad het oor skermtydd en lekkergoed eet nie.

Ek dink wat dit soms vir ons moeilik maak is die gedagte dat enige besluit wat mens nou maak jou en jou kinders se trajek vir die toekoms bepaal. Maar ek wil waag om te sê dat dit nie noodwendig die geval is nie. Ons is mense wat besluite maak vanuit die kennis wat ons tot ons beskikking het – niks keer ons om ander besluite te maak wanneer ons ander inligting tot ons beskikking het nie. Mag ons altyd onthou dat wat ons doen as ouers nie so belangrik is as wie ons is nie!

Comments


Recent Posts
bottom of page