top of page

Ons elkeen verdien 'n "huis" (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 20 Oktober 2023 gepubliseer


Ek het op hierdie kragtige woorde afgekom waaroor Erwin McManus gesels het:

“Home is ultimately not about a place to live but about the people with whom you are most fully alive. Home is about love, relationship, community, and belonging, and we are all searching for home.”

Ek was die afgelope ruk dankbaar om te hoor hoe ‘n paar tieners vir my noem dat hulle die afgelope jaar moes leer om met hulle ouers te gesels oor baie moeilike uitdagings in hulle lewens. Êrens het die uitdaging net só groot geraak dat hulle moes erken: “Ek kry nie asem nie, ek het hulp nodig.”

Daarom is McManus se woorde vir my juis nóú so kosbaar. Ons almal het ‘n diep behoefte om êrens te behoort, om êrens te beleef dat ek raakgesien word en dat daar iemand is wat met liefdevolle oë na my kyk.

Ons almal het ‘n spier wat by baie van ons onderontwikkel is. Hierdie spier is die vermoë om ons weerloosheid te erken teenoor ander wat vir ons “huis” wil wees. As ek terugdink aan my eie lewe is ek jammer om te erken dat ek soms eers in weerloosheid na iemand uitgereik het wanneer daar absoluut geen ander uitweg vir my oor was nie, of wanneer moeilikheid my begin inhaal het. Die rede waarom dit waar is vir baie van ons, is omdat ons trots is. Ons hou nie van die gedagte dat ander weet ons is nie ‘okay’, of sterk genoeg nie.



Hoe kan ons dit vir mekaar makliker maak om wél te erken ons is nie ‘okay’ nie?

Dit vat tyd om vir iemand “huis” te wees.

Soos met die sogenaamde agtste wonder van die wêreld (saamgestelde rente) bou ons beleggings van vertroue en verbintenis stelselmatig op mekaar. Dit skep ‘n fondasie waarvan ons na mekaar kan omsien en mekaar kan laat veilig voel.

‘n Ander manier hoe ons dit vir ander makliker maak om weerloos teenoor ons te wees, is deur dit natuurlik self te doen, veral ook teenoor ons kinders. Erken dat jy ook soms sukkel met vrae en uitdagende seisoene. Wanneer dit nodig is, erken teenoor ander dat jy ‘n fout gemaak het en dat jy dit graag wil regstel.

Vra goeie vrae. Ons instinktiewe reaksie is soms om vanuit die staanspoor saam na oplossings te begin soek of om raad te gee waarvoor nie noodwendig gevra is nie. Vra goeie vrae vra om beter te verstaan, vra hoe jy van hulp kan wees of beter kan ondersteun. Een van veral tieners se grootste vrese om groot gevoelens of uitdagings met hulle ouers te deel, is die vrees dat hulle ouers gaan oorreageer of gaan veroordeel. Hierdie vrees is in baie gevalle nie irrasioneel nie; baie ouers het (met respek gesê) voorheen al bewys dat hulle dit waarskynlik gaan doen.

Die lewe het soveel mooi om vir ons te bied. Tussenin is daar wel groot uitdagings wat die lewe soms kliphard maak. Ek en jy het ‘n “huis” nodig en ons het nodig om dit vir ander te wees.

Moenie wegskram van die moeilike gesprekke en ongemaklike vrae wanneer jy weet dat dit iemand vir wie jy lief is, gaan help om weer hulle “huis” te vind nie!

Kommentarer


Recent Posts
bottom of page