top of page

Ons dierbare diere (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 25 Oktober 2022 gepubliseer


Daar is twee dinge wat ek gesê het ek nooit sou doen nie: om ‘n worshond en ‘n kat in my huis toe te laat. Vandag draai ons kat en worshond ons hele gesin om hulle pinkies! Net om ‘n bietjie balans te bring, het ons darem ‘n bullterriër ook, maar hy is beslis die vredeliewendste tussen die drie vierpotiges in ons huis.

Skittles (ons kat) het haarself in ons lewe inforseer op ‘n koue wintersoggend in Pretoria, toe ek by die gemeente waar ek gewerk het, op haar en haar boeties en sussies afgekom het. ‘n Klein bolletjie wol het uit ‘n gat in die muur reguit na my toe gestap, en die res is geskiedenis! Phoebe (ons worshond) is ‘n Dapple worshond, maar haar kolle was nie só mooi dat iemand haar wou hê nie. Ons het ‘n donasie betaal en Phoebe huis toe gebring. Vir ‘n paar jaar, in ons woonstelletjie in Pretoria, het Phoebe en Skittles boesemvriende geword en elke middag saam op die bank na die hek geloer om te sien wanneer hulle eienaars sou huis toe kom.

Ek is verras om te sê dat ons kat en ons seuntjie (wat nou 19 maande oud is) groot tjommies is! Ruach roep vir Skittles wanneer sy buite is, hy gee vir haar kos (op sy manier!) en Skittles laat hom met groot vrymoedigheid en plesier toe om haar te vryf.

Ons deel die aarde met baie vierpotiges, en ek begin al hoe meer te besef dat ons ons troeteldiere onderskat en onderwaardeer. Veral vir ons kinders is dit (vir dié wat kan) ‘n groot lekkerte en leerskool om hulle eie diere te kan versorg en te kan geniet.

As kind het ek met bullterriërs grootgeword. Ek het eerstehands ervaar hoe die stigma rondom sekere honderasse gebreek word wanneer ons vir diere die nodige liefde en respek toon. Dit maak my hartseer om te sien hoe baie mense en kinders deur pitbulls aangeval word en ek is seker dat, in die meeste gevalle, die honde nie die nodige respek ontvang het toe hulle geteel of grootgemaak is nie.

Spreuke vertel mooi hoe ons na ons diere moet omsien (12:10 - Die Boodskap): “’n Gelowige is lief vir sy diere. Hy behandel hulle altyd goed. Ongelowiges is ongenaakbaar. Hulle sny diere sommer maklik keelaf.”

Geniet en waardeer jou diere! Jou kinders is beter mense as gevolg van die diere in jou huis. Kyk ook rond na weerlose diere rondom jou, en help wanneer jy kan!

Comments


Recent Posts
bottom of page