Om NIE oor die olifant te praat nie... (JZ de Jager)
Oorspronklik 28 Julie 2023 gepubliseer
Ons kyk die ander aand ‘n episode van ‘n storie wat ons volg. In hierdie episode maak een van die karakters die opmerking dat die jong getroudes vroeg in hulle huwelik die standaarde en grense van die verhouding moet stel, want as dit nie vroeg gebeur nie dan gaan dit nie gebeur nie.
Ek dink almal van ons ken die spreekwoord baie goed wat sê dis die klein jakkalsies wat die wingerd verwoes. Ons kan amper dieselfde ding sê met die die olifant in die vertrek. Ons is baie geneig om krities na ons maat te kyk. Of dalk moet ek eerder sê aanvanklik in mens se verhouding kyk mens nie krities nie, mens sien en waardeer al die klein goedjies. Maar soos wat die verhouding vorder sien en waardeer ons soms nie meer die klein goedjies nie. Dan sien ons eerder die klein goedjies raak wat ons so bietjie krapperig laat voel.
Ek dink een van die geheime van ‘n gelukkige huwelik (maar seker ook die lewe?) is om nie ons fokus op die verkeerde dinge te sit nie. Ons kan so maklik net goed raaksien wat ons krapperig laat voel dat ons die dinge wat ons eintlik waardeer heeltemal mis.
Een van die mooiste dinge vir my om te sien is wanneer ek vir ‘n paartjie vra watter eienskappe van jou maat het jou aangetrokke gemaak tot hom/haar. In daardie oomblik kom daar meeste van die tyd ‘n baie mooi glimlag op albei se gesigte en dan kyk hulle vir mekaar met sagte oë. Hulle hoef nooit vreeslik lank daaroor te dink nie.
Ek dink dit is belangrik dat ons weer sal leer hoe om mekaar raak te sien vir wie elkeen regtig is. Om mekaar te waardeer vir daardie klein goedjies wat jou aanvanklik so beïndruk het. Maar hoe doen ons dit wanneer ons gemaklik geraak het met mekaar binne die huwelik of ‘n langtermyn verhouding? Hier is ‘n paar wenke:
Sê vir jou maat wat jy van hom/haar waardeer.
Skryf ‘n nota of ‘n briefie waarin jy net bevestig hoe belangrik jou maat vir jou is – en dan kan jy selfs die briefie op ‘n plekkie wegsteek waar jou maat dit onverwags gaan ontdek.
Gee jou maat ‘n breek… As jy gewoonlik na ete opstaan en gaan werk en die opruim vir jou maat los sê vir jou maat jy sal bietjie oorvat en dat hy/sy kan ontspan.
Vertel vir die wêreld wat jou maat vir jou beteken.
Gee ‘n sommer-net-geskenkie.
Streef daarna om meer te bied as wat jy neem.
Mag julle met nuwe oë na mekaar kyk en nie altyd oor die olifant in die vertrek praat nie.
Commenti