top of page

Oefen jy jou dankbaarheidspier? (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 14 Januarie 2021 gepubliseer


Terwyl ek vanoggend skryf, is dit tyd vir koffie en beskuit. Vanoggend doen ek my ritueel ‘n bietjie anders. Ek kyk na die verpakking van die koffie… die koffie kom van Brasilië af. Vanoggend dink ek aan die vrou (of man) wat die koffiebone gepluk het doer in Suid-Amerika. Ek dink aan die mense wat in die fabriek gewerk het om die koffieboon só te kry dat dit gerooster kon word.

En toe vlieg die bone Nederland toe, waar dit verder verpak en verwerk sou word tot die finale produk. Ek dink aan die vrou (of man) wat in die fabriek van hierdie koffiereus werk, en ek probeer om my te verbeel hoe hierdie vrou (of man) se lewe lyk, doer in Europa.

Die koffie smaak vanoggend ‘n knertsie lekkerder as gisteroggend.

Terwyl ek die tuisgebakte beskuit eet, dink ek aan die vrou wat dit gebak het. Ek dink sommer vir ‘n oomblik aan haar en wat ek van haar waardeer. Sy bak hierdie beskuit sodat haar kinders op universiteit kan studeer. Ek dink ook vir ‘n oomblik aan die vrou wat saam met haar in haar huis werk. Wat is haar naam? Het sy ook kinders? Wat is die drome wat sy vir haar kinders koester?

Die beskuit proe vanoggend ekstra lekker.

Sal ons nie dankbaarder mense wees as ons elke dag so ‘n oefening onderneem nie? Om die persoon agter die produk, die persoon agter die diens, die persoon aan die ander kant van die toonbank raak te sien? Om te probeer verstaan wat dit hierdie persoon gekos het om te kom tot by die plek waar sy aan my ‘n diens kon lewer.

In ons verbruikerswêreld doen ons dit nie genoeg nie. Want wanneer ons vir iets betaal het, dan het ons wat ons ook al gekoop of voor betaal het, verdien, einde van die storie. Dalk moet ons moeite doen om meer te probeer raaksien en te waardeer.

As ons mense van dankbaarheid wil wees, moet ons leer om meer teenwoordig te wees. Meer raak te sien. Meer te waardeer.

Ek het vir ‘n jaar of wat elke dag probeer om neer te skryf vir wie of wat ek dankbaar is. Dis redelik maklik om dit vir ‘n week te doen, maar wanneer ons onsself uitnooi om vir ‘n leeftyd die gesigte en dinge waarvoor ons dankbaar is ‘n naam te gee, moet ‘n mens verder en kreatiewer dink. Probeer dit, dit werk!

Hoe leer ons ons kinders om dankbare mense te word? Ons help hulle om die gesigte agter die produk of die diens raak te sien. Die vrou wat in ons huis werk, is ‘n kosbare mens vir wie ons kinders die grootste respek moet hê. Die persoon wat ons in die restaurant bedien, het ook ‘n storie, en verdien ‘n fooitjie. So leer ons ons kinders om teenwoordig te wees, raak te sien en te waardeer.

Terwyl jy hierdie lees, kyk gou rondom jou. Wat sien jy rondom jou, wat jou kan help oefen om te groei in dankbaarheid?

Comments


Recent Posts
bottom of page