top of page

'n Uitnodiging om te reflekteer (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 7 Julie 2023 gepubliseer



Die verskil tussen ‘n konsekwente, sinvolle en ‘n wisselvallige lewe is dikwels die klein besluite, ritmes en veranderinge wat ons gereeld toepas.

Vandag deel ons een eenvoudige ritme wat ‘n groot verskil kan maak, wat gebaseer is op die ‘Prayer of Examen’. Hierdie gebed is ‘n uitnodiging om aan die einde van elke dag te reflekteer.

Dink aan een ‘op’ en een ‘af’ in jou dag, een hoogtepunt en een laagtepunt.

Is daar iets wat gebeur het, wat vir jou ‘n seën was, êrens waar jy die Here ervaar het of waar jy vreugde beleef het? Die reaksie op die ‘op’, die hoogtepunt, is dankbaarheid. Dink na oor dit wat gebeur het, waarom dit jou tot dankbaarheid stem, en dra jou dankbaarheid aan die Here op.

Dink nou aan een ‘af’, ‘n laagtepunt, waar jy die skerpkant van die lewe ervaar het? Het iemand jou seergemaak, het daar iets gebeur wat jou vreugde van jou ontneem het, was jy dalk self die rede vir die laagtepunt? Dink na oor hierdie laagtepunt, bekyk hom van verskillende kante, doen selfrefleksie. Die reaksie teenoor die ‘af’ is afhanklikheid. Bely nou jou afhanklikheid teenoor die Here, vra vergifnis indien nodig, erken teenoor die Here dat jy Hom nodig het en plaas die laagtepunt by sy voete.

Wanneer jy klaar oor jou ‘op’ en ‘af’ nagedink het, sê: “Dankie Here, U is groter as elke opste op en elke afste af.”

Memoriseer Psalm 4:8 en gebruik dit as gebed: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.”

Mag hierdie oefening jou verryk!

Comments


Recent Posts
bottom of page