top of page

'n Storie oor 'n plastiek sakkie (Anru Liebenberg)

Oorspronklik 21 Julie 2023 gepubliseer

I have a confession to make…

‘n Paar maande gelede het ek ‘n plastiek sakkie wat vleis in gehad het, uitgespoel en op die vensterbank gelos om droog te word en later weg te gooi. Dié sakkie het afgeval en in ons tuin beland.

Baie middae, wanneer ek ons voordeur oopsluit, het ek die sakkie raakgesien. Niemand anders sou nie, maar ek het van hom geweet. Hierdie week het ek naby die sakkie verbygeloop en einde ten laaste het ek geluister na die stemmetjie in my wat al vir maande vra: “Wil jy nie tog maar in die tuin klim en die sakkie weggooi nie?”.

My "confession" het my laat dink aan die woorde integriteit en innerlike motivering.

Baie mense (veral tieners wat ek al gevra het) sou sê ‘n goeie definisie van integriteit is dit wat jy doen, wie jy is, wanneer niemand vir jou kyk nie. Dit is dalk ‘n geykte verduideliking, maar daar is tog waarheid daarin. Wat sê my traagheid om ‘n plastiek sakkie op te tel wat niemand anders sien nie, van my integriteit? Is my gedrag (ook wanneer niemand my dophou of polisieer nie) in lyn met die persoon wat ek graag wil wees?



Waarom is mense wat leef met integriteit so skaars vandag? Kan jy jou indink wat ‘n aangename werk ouditeure en SARS amptenare sou gehad het as hulle kon aanvaar dat almal hulle opgawes en finansiële state met integriteit ingedien het?

Die ongemaklike waarheid is: as ek geweet het iemand anders sien ook die plastiek sakkie, het ek dit al lankal opgetel. Baie van die dinge wat mense doen, doen ons omdat ons weet ander gaan ons sien. My trots, my ego is op die spel. Maar om ‘n persoon te word wat kongruent leef met die waardes wat ek vir myself gekies het, vereis innerlike motivering. Niemand gaan my opcheck om die mens te wees (en te word) wat ek wil wees nie.

Dít is wat integriteit vir my beteken: wanneer ander die vrugte pluk van die mens wat ek elke dag kies en beoefen om te wees, ja, juis wanneer niemand my dophou nie.

Hoe motiveer jy jouself om al hoe meer te word wat jy is en graag nog meer van wil word? Ek kan vir maande lank die besluit neem dat ek iets moet doen, maar baie van ons kom net nie by die uitvoering van daardie voorneme uit nie.

Ons innerlike dialoog is baie belangrik. Laat ons toe dat ons innerlike gedagtes vír ons dikteer wat ons voel en wat ons dink, wat uiteindelik wie ons is, bepaal? Of sê ons soms vir ons innerlike self die teendeel? Byvoorbeeld: “…al het ek vandag ‘n halfuur gemors deur die pro in procrastinate te wees, sê ek nogsteeds vir myself: ek is ‘n persoon wat produktief is en van waarde wil wees ter wille van ander.” “Al het hierdie deeltjie van my gedrag vandag die teendeel gesê, is ek iemand wat liefde leef…” “…ek is iemand wat die ekstra myl wil stap…” “…ek is iemand wat eerlik en opreg is met ander…” “…ek is iemand wat vertroue in my verhoudings bou.”

Dalk is daar ‘n goeie rede dat Jesus ons herinner het om, wanneer ons bid, in ons binnekamers te wees. Dít is die plek waar al ons maskers afgehaal word, waar ons die waarheid in die oë kan kyk, en die Here vertrou om nóg meer te word, wat Hy in elk geval reeds vir ons gegee het!

Comments


Recent Posts
bottom of page